|

AfriForum se Alfa-buurtwag skep hoop in Hermanus

AfriForum se Alfa-buurtwag in Hermanus het op 24 Augustus saam met die SAPD en privaat sekuriteitsmaatskappye ’n gesteelde boot opgespoor. Dié boot is omstreeks 22:00 uit Stanford gesteel. Te danke aan parate optrede van gemeenskapslede wat die diefstal aan die Alfa-buurtwag gerapporteer het, kon die SAPD daarin slaag om die boot sowat 20 minute later op te spoor.

“Ons maak staat op die gemeenskap se betrokkenheid – samewerking tussen alle rolspelers maak dit vir ons moontlik om misdaad hok te slaan. Deur deel te wees van ’n veiligheidstruktuur kan die gemeenskap hul paraatheid opskerp en kommunikasie verbeter,” sê Lourens Theron, voorsitter van AfriForum se Alfa-buurtwag.

Op 27 Augustus het die Alfa-buurtwag ook ’n Belgiese toeris bygestaan ná sy en haar drie kinders deur ’n gewapende verdagte van ‘n selfoon beroof is.

“Ons moet toeriste waarsku om paraat te wees – misdaad affekteer ons dorp se toerisme-aantreklikheid en as dit so voortgaan sal toekomstige toeriste ontmoedig word om Hermanus te besoek,” sluit Theron af.

Om by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak, SMS die woord “VEILIG” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings