|

AfriForum se 2018-internskap skop af met selfdoenaksies

Die burgerregte-organisasie AfriForum se internskapprogram vir studente en jong werkendes van verskeie AfriForum Jeug-takke het vandeesweek amptelik afgeskop.

Elf jongmense van onder meer die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van Stellenbosch (US), die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU), die Universiteit van die Vrystaat (UV), asook jeuglede van AfriForum-takke in Mosselbaai, Bloemfontein, Vanderbijlpark en Rustenburg neem vanjaar aan die program deel.

Volgens Marike van As, opleidingsbeampte van AfriForum Jeug, het die internskap ten doel om ʼn verrykende ervaring te wees wat studente blootstel aan die verskillende bedrywighede van dié burgerregte-organisasie.

Tydens die internskapprogram sal interns onder meer:

  • Leer hoe AfriForum en die Solidariteit-beweging se strukture werk;
  • Die geleentheid kry om saam met AfriForum se provinsiale koördineerders slaggate te vul, vullisterreinoudits te doen, water te toets en deel te wees van herwinningsprojekte;
  • Takvergaderings bywoon;
  • Woordvoerderopleiding ontvang;
  • Leer oor erfenisbewaring; en
  • Self ’n uitvoerbare projek identifiseer en ʼn voorlegging maak oor kwessies wat hulle tydens die internskap geïdentifiseer het. Dié voorleggings moet in die vorm van ’n deeglike projekplan wees, wat bemarking- en finansiële beplanning insluit.

Die program is vir die eerste keer in 2014 aangebied en interns het vandeesweek reeds gewoeker en slaggate voor Hoërskool Waterkloof in Pretoria gevul, asook ’n skoonmaakaksie in Waverley in Pretoria aangepak en water getoets.

Interns in Leeupoort, Limpopo, het ook ’n vullisterreinoudit voltooi en patrollie saam met die Warmbad-buurtwag gery. In Randfontein is straatname geverf.

*AfriForum Jeug bied ook vanjaar ’n leierskapontwikkelingskamp aan vir hoërskoolleerders. Die kamp vir leerders wat vanjaar in graad 8 is, vind vanaf 8 – 12 Julie plaas by Moolmanshoek in die Vrystaat. Tydens die kamp word op leierskap, kultuur, geloof en avontuur gefokus. Kontak Riaan Jacobs by riaan.jacobs@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings