|

AfriForum se 10 Dae van Selfstandigheid was reuse sukses

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Om bymekaar te kom, is ’n begin; om bymekaar te bly, is vordering; om saam te werk, is sukses. Dus moet staatsafhanklikheid plek maak vir gemeenskapselfstandigheid.”

So sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, na afloop van die burgerregte-organisasie se 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog wat vandag op ’n hoë noot afsluit.

Tiaan Esterhuizen, bestuurder van gemeenskapsake by AfriForum, het gesê die veldtog het hul stoutste verwagtinge oortref. “Die gemeenskappe se betrokkenheid was ongelooflik en meer mense is nou bewus van die werk wat AfriForum doen.”

Esterhuizen meen gemeenskappe is opgewonde oor die selfdoen-inisiatief en positiewe bydra wat AfriForum gelewer het.

Hy het voorts gesê sommige munisipaliteite het baie goeie samewerking gegee en gehelp om van die veldtog ’n sukses te maak.

“Van die munisipaliteite het arbeiders of hyskrane voorsien vir aksies om slaggate te vul en straatligte reg te maak.

In gevalle waar munisipaliteite egter onwillig is of was om saam te werk, is ook vordering gemaak ten opsigte van saakwaarneming.

In die geval van die Inkwanca Plaaslike Munisipaliteit (Molteno) het het die munisipaliteit byvoorbeeld geld aan AfriForum oorbetaal vir dienste wat die organisasie gelewer het en waarvoor hy die uitgawes teruggeëis het voordat dit vir die balju nodig was om op die munisipaliteit se bates beslag te lê.

AfriForum en sy regspan is ook reeds besig met stappe teen ander munisipaliteite van wie hy onkoste wil verhaal.

Esterhuizen het gesê sowat 200 selfdoen-aksies is die afgelope tien dae uitgevoer. Hiervoor is:

  • Sowat 135 ton teer gebruik om slaggate te herstel
  • 4000 slaggate is herstel
  • 368 ton rommel is verwyder
  • 201 straatligte is herstel
  • 2 007 bome is geplant
  • 10 begraafplase is skoongemaak
  • Meer as 3 000 mense het deelgeneem aan Operasie Misdaadvry
  • 127 gemeenskapsorganisasies neem deel aan Operasie Misdaadvry
  • 61 115 km is afgelê tydens Operasie Misdaadvry
  • 8 419 man-ure is gewerk tydens Operasie Misdaadvry

Operasie Misdaadvry was die grootste gesamentlike gemeenskapsmisdaad-bekampingsoperasie wat nog gekoördineer is. Dit was deel van die 10 Dae van Selfstandigheid en daarop gemik om gemeenskappe se vermoë om hulself te beveilig uit te brei.

Van die selfdoen-projekte wat vandeesweek voltooi is, sluit in:

  • Die AfriForum-tak in Wolmaransstad het die dorp se strate skoongemaak.
  • Die Utrecht-tak in KwaZulu-Natal het onveilige kragkabels toegemaak.
  • 35 nuwe straatnaamborde is in die Apiesrivier landelike gebied aangebring. Die projek het sowat R2 800 gekos.
  • Die AfriForum-tak in Louis Trichardt het die dorp se begraafplaas skoongemaak. Plante is selfs by die ingang geplant.
  • Die AfriForum-tak in Lichtenburg het Retief-parkie skoongemaak en verfraai.

Die 10 Dae van Selfstandigheid is aangepak in aanloop tot die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad wat Saterdag, 10 Oktober, in Pretoria gehou word.

 

 

Soortgelyke plasings