|

AfriForum, SAPD en gemeenskap vat hande om misdaad in Bloemfontein te bekamp

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum het in die naweek hande met die SAPD en verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye gevat om geweld in Bloemfontein te bekamp.

Die burgerregte-organisasie se Bloemfontein-buurtwagte het  Vrydag hul eerste dorpspatrollie vir die jaar gehad. Sowat 180 patrolleerders – elkeen ’n buurtwaglid – het in samewerking met die SAPD en verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye daaraan deelgeneem. 

“Daar is in totaal 8 buurtwagte in Bloemfontein en elkeen het aan die patrollie deelgeneem. Die SAPD en SAPD se lugvleuel tesame met Chubb, Bloemsec, Nissi, ITR, SecuriForce, Aero Care en Life Rosepark-ambulansdienste was deel van die patrollie,” het Pieta Myburgh, voorsiter van die AfriForum-tak in Fichardtpark, Bloemfontein, gesê.

Hy het aan Forum Nuus gesê dat daar ‘n gevoel van bemagtiging en opwinding onder buurtwaglede was tydens die patrollie. “Met so ‘n aksie kry die gemeenskap die geleentheid om hul veiligheid in hul eie hande te neem.” Hy het gesê dat die SAPD en privaat sekuriteitsmaatskappye se samewerking, asook die verskeie buurtwagte se bereidwilligheid om deel te neem, bygedra het tot die aand se sukses.

Die 180 patrolleerders in sowat 80 voertuie, het deelgeneem aan die patrollie wat tussen 20:00 en 05:00 geduur het. Patrollies is in skofte van drie ure per skof gery. Dit verteenwoordig sowat 4 363 km wat afgelê is en 1 018 man-ure wat gewerk is. Die geldwaarde hiervan kan na R305 400 omgeskakel kan word.

Volgens Johann Hattingh, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Vrystaat, was die patrollie op misdaadvoorkoming en sigbaarheid van veiligheidstrukture gemik. Woonbuurte wat deelgeneem het, sluit in Fichardtpark, Hospitaalpark, Pellissier, Uitsig, Wilgehof, Rayton, Heuwelsig, Noordhoek en Langenhovenpark.

“Ons is verheug dat daar geen ernstige voorvalle aangemeld is nie. Dit was ’n baie  suksesvolle aksie. Dit is duidelik dat die gemeenskap van Bloemfontein weet dat selfdoen beter is as niksdoen,” het Hattingh gesê.

Hy het ook gesê dat die goeie samewerking tussen AfriForum en die SAPD grootliks bygedra het tot die aand se sukses. “Ons het van die eerste dag af goeie samewerking met die SAPD en privaat sekuriteitsmaatskappye gehad, juis omdat ons daarop ingestel is om ’n bydra te lewer tot veiligheid in gemeenskappe en nie om mekaar se rolle oor te neem nie.”

 

 

 

Soortgelyke plasings