AfriForum sal stryd in hof voortsit teen parlementsbesluit dat Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak


Die burgerregte-organisasie AfriForum het in reaksie op die parlement se aanvaarding van die grondwetlikehersieningskomiteeverslag – wat aanbeveel dat die Suid-Afrikaanse Grondwet gewysig moet word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak – aangedui dat dit nie die einde van die geveg is nie en dat AfriForum se stryd teen die aanvaarding van die verslag volstoom in die howe voortgesit sal word.
Die hoë hof in Kaapstad se beslissing op Vrydag 30 November 2018 dat AfriForum se aansoek teen die verslag nie dringend is nie, het slegs oor die eerste gedeelte van AfriForum se aansoek gehandel en het nie oor die meriete van die saak gegaan nie. Die tweede deel van AfriForum se aansoek wat reeds voor die hof dien en wat oor die meriete van die saak handel, staan dus steeds en gaan voort.
Deel twee van AfriForum se saak handel onder meer oor die gebrekkige proses wat die parlementskomitee gevolg het deur skriftelike besware teen onteiening sonder vergoeding te ignoreer.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is sy organisasie vasbeslote om te help toesien dat Suid-Afrika nie eiendomsreg vernietig deur middel van onteiening sonder vergoeding nie en te help keer dat Suid-Afrika dieselfde vernietigingspad as Zimbabwe en Venezuela loop. Die feit dat Zimbabwe vandag ’n werkloosheidskoers van 90% het, is volgens Kriel ’n bepalende faktor dat almal in ’n land, en nie net grondeienaars nie, ernstig benadeel word indien eiendomsreg misken word. “AfriForum onderneem daarom om elke moontlike meganisme tot sy beskikking te gebruik om in belang van almal in die land tot die bitter einde teen die ondermyning van eiendomsreg te stry,” voeg Kriel by.
Kriel wys daarop dat die Suid-Afrikaanse Grondwet en die beskerming van eiendomsreg wat daarin vervat is, die resultaat is van ’n onderhandelde skikking wat in 1994 bereik is tussen verskeie partye met die ANC en die destydse NP-regering as hoofrolspelers. “Indien die ANC-beheerde parlement sou voortgaan om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, sal dit ’n duidelike aanduiding wees dat die ANC besig is om die 1994-ooreenkoms blatant te verbreek. Dit sal ’n ernstige vertrouenskrisis tussen minderhede en die ANC-regering tot gevolg hê,” sê Kriel.
Volgens Kriel sal AfriForum benewens die stryd wat plaaslik in Suid-Afrika in die howe en op ander platforms teen onteiening sonder vergoeding verder gevoer gaan word, ook voortgaan om sy pogings te verskerp om internasionale druk ter beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika te help genereer. “AfriForum het juis verlede week die saak geopper tydens die organisasie se deelname aan die Verenigde Nasies se Forum vir minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland,” sluit Kriel af.

 

Soortgelyke plasings