| | |

AfriForum sal skole met regsadvies bystaan oor COVID-19-skoolbrigades

AfriForum is steeds bekommerd oor die voortgesette plan van die Gautengse Departement van Onderwys, waarin dié departement werklose jongmense – tussen die ouderdom van 18 en 35 – as lede van COVID-19-brigades by skole in Gauteng wil ontplooi. Volgens ’n mediakonferensie wat die departement vandag gehou het, gaan die brigades ’n verskeidenheid pligte by skole hê wat insluit die daaglikse skandering van leerders en onderwysers, asook die eensydige monitering van wat volgens hulle veilig en noodsaaklik is.

Die spesifieke rol en magte van die brigades is steeds nie duidelik gestipuleer nie. “Dit sou meer sinvol wees as die departement in kontak was met skole sodat skole self kan besluit of hulle van die brigades gebruik wil maak. Talle skole het aktiewe ouer- en gemeenskapsbetrokkenheid en dié rol kan vanuit die gemeenskap self gevul word,” sê Henk Maree, woordvoerder vir AfriForum.

Dit is slegs 10 dae sedert die eerste advertensie geplaas is tot die ontplooiing van die brigades wat Maandag geskied. Dit laat die vraag ontstaan hoe enkele dae se opleiding lede van brigades voldoende voorberei om nie ook soos talle goedopgeleide weermag- en polisielede buite hul magte op te tree nie – veral in weerlose omgewings soos skoolgemeenskappe.

Die data wat lede van die brigade by elke skool moet insamel, is ’n verdere rede tot kommer wanneer die skool en ouers se privaatheid in ag geneem word. “Tot watter mate jou privaat inligting privaat sal bly, is ’n ernstige vraag wat gevra moet word.”

Die militaristiese ondertoon wat reeds deur die term “brigade” geskep word, is onrusbarend, veral aangesien geen ouer sy kind in ’n militaristiese omgewing wil plaas waar die brigade kortstondig opgelei en, in sommige gevalle, slegs enkele jare ouer is as die kind nie. Indien ’n personeellid en ’n brigadelid van mekaar sou verskil, is dit ook nie duidelik by wie die finale sê of mag, lê nie.

“Skoolgemeenskappe moet die reg hê om te kies of hulle van hierdie hulp gebruik wil maak of nie. Waar skole nie aan die brigades toegang tot hul terreine, personeel en leerders wil toestaan nie, moet hulle keuse gerespekteer word en as dit nie die geval is nie, sal AfriForum beheerliggame met regsadvies bystaan.”

“Die meeste skole het reeds omvattende planne daargestel om Maandag te begin en is gereed om alles volgens die reëls te doen. Die planne is aan ouers en leerders gestuur. Talle skole het dus geen behoefte aan die brigades nie,” het Maree afgesluit.

Soortgelyke plasings