| | |

AfriForum-saak oor repatriasie en kwarantyn uitgestel

AfriForum se saak oor die probleme wat Suid-Afrikaners ondervind wat na dié land terugkeer of gerepatrieer word, is vanoggend gedeeltelik aangehoor deur regter Colleen Collis in ’n virtuele verhoor van die Noord-Gautengse hooggeregshof. Die argumentasie oor die meriete van die saak is tot die week van 13 Julie 2020 uitgestel, terwyl die hof AfriForum se aansoek vir wysigings aan die aansoek van die hand gewys het.

Die saak handel onder meer daaroor dat mense wat tans uit die buiteland na Suid-Afrika terugkeer, vir ’n minimum van 14 dae in ’n staatsfasiliteit in kwarantyn moet bly, dat hulle regte dikwels in die fasiliteite geskend word en dat daar selfs voorsiening gemaak word daarvoor dat hulle vir dié verpligte verblyf sal moet betaal (hoewel dit nog nie toegepas word nie).

AfriForum het die afgelope drie maande voortdurend klagtes van mense in die kwarantynfasiliteite ontvang. Klagtes handel onder meer oor ’n gebrek aan mediese sorg en medikasie, probleme om kos te kry vir mense wat spesifieke dieetvereistes het, onhigiëniese toestande in sommige van die fasiliteite en tragiese persoonlike omstandighede wat die verblyf van 14 dae – selfs ná hulle negatief getoets het – veroorsaak. Van die mense repatrieer juis weens krisissituasies in hul nabye familie, maar kan dan niks doen om hul geliefdes te ondersteun nie – selfs al toets hulle negatief omdat hulle dié 14 dae steeds moet deursien.

Met tydsduur in gedagte en omdat die regulasies oor kwarantyn deurentyd aangepas word, sal AfriForum se regspan nou oorweging gee aan die sinvolheid van die voortsetting van die huidige saak, of om eerder ’n nuwe aansoek te rig wat in pas met die mees onlangse regulasies sal wees.

AfriForum se prioriteit bly steeds om oplossings vir die gerepatrieerdes se probleme te vind, sonder dat enigeen se veiligheid in die gedrang kom.

Soortgelyke plasings