|

AfriForum ry 1 000 km vir bewusmaking van plaasmoorde

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan in samewerking met Quads 4 Quads, Adventure Company en Farmers’ Friends vandeesweek sy deel doen vir die bewusmaking van plaasmoorde deur ʼn motorfietstoer vanaf Ballito in KwaZulu-Natal tot Carnival City in Gauteng te voltooi.

Die Quads 4 Quads motorfietstoer is 13 jaar gelede begin deur The Adventure Company se Glenn Foley en Corinne Andrews, wat besluit het om QASA (QuadPara Association of South Africa) die begunstigde van dié unieke fondsinsamelingsprojek te maak.

Dié rit van 1 000 km strek oor 4 dae, waartydens sowat 400 motorfietsryers, insluitend verskeie parapleë en kwadrupleë op aangepaste vierwielmotorfietse, daagliks 250 km aanpak.

AfriForum het vanjaar vier motorfietsryers asook twee bystandbestuurders geborg vir die plaasmoorde-bewusmakingsgroep, Farmers’ Friends, wat ook aan dié rit deelneem.

Dié organisasie is deur André van den Berg en Bernadette Hall gestig nadat haar man vier jaar gelede op hul plaas Frischgewaagd, naby Fochville, vermoor is. Die vermeende moordenaars is ʼn jaar later onskuldig bevind en vrygelaat.

AfriForum het Hall bygestaan tydens die verhoor en daarna het hulle hande gevat om die veldtog teen plaasaanvalle verder te voer. Sy en André het toe besluit om ook hul eie bewusmakingsveldtog te begin. Hulle ondersteun verskeie ander aksies en soortgelyke veldtogte waarvan Quads4Quads een is.

Van den Berg het aan Forum Nuus verduidelik dat hulle Quads4Quads om verskeie redes ondersteun, onder meer omdat hulle oor baie plase ry tydens die rit. Die groep slaap ook by sekere punte oor in plaasskure.

“Die boere maak hul plase, huise en harte vir ons oop. Ek dink dat die regering steeds nie die belangrikheid en erns van plaasmoorde besef nie en daarom wil ons soveel as moontlik doen om bewustheid daaroor te skep.”

Glenn Foley, een van die stigterslede van Quads4Quads, het gesê die rit is uniek omdat dit bewustheid skep vir ’n saak wat baie mense na aan die hart lê.

“Die rit simboliseer die gees van QASA. Kwadrupleë wys deur hul vasberadenheid dat ʼn fisiese gestremdheid nie hul uithouvermoë of behoefte om hul beste te doen, beïnvloed nie,” meen hy.

“Terselfdertyd wil ons bewustheid skep vir die veiligheid van ons land se boere, want sonder hulle het ons geen toekoms nie.”

Die groep vertrek vandag vanaf Ballito in KwaZulu-Natal en sal op 9 Oktober by Carnival City in Gauteng arriveer.

Ondersteun die rit deur die vorm hieronder in te vul: https://afriforum.co.za/motorfietsliefhebbers-wen/

Soortgelyke plasings