|

AfriForum rig skrywe oor kragsituasie in Govan Mbeki-munisipaliteit

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ’n aanmaningskrywe aan Eskom en die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit te stuur. Dit volg ’n besluit deur Eskom dat die kragreus sal voortgaan om elektrisiteit na die munisipaliteit af te sny indien dié munisipaliteit nie R50 miljoen aan Eskom betaal nie.

Volgens Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is dit die derde keer sedert April 2019 dat die munisipaliteit nie die afbetalingsooreenkoms nakom nie. “Talle gebruikers betaal hul elektrisiteituitgawes aan die munisipaliteit, maar ons merk juis op dat hierdie geld nie aan Eskom oorbetaal word nie. Die munisipaliteit ontvang ook fondse van nasionale tesourie om voorsiening te maak vir hulpbehoewendes se elektrisiteituitgawes. Nou word betalende verbruikers vir die munisipaliteit se wanbestuur gestraf.”

Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit skuld altesaam meer as R517 miljoen. AfriForum het in die aanmaningskrywe onder meer gevra of Eskom hul besluit prosedureel kan regverdig aangesien daar geen openbaredeelnameproses vir hierdie besluit was nie. In 2018 is kragvoorsiening na dié munisipaliteit opgeskort, waarna munisipale trokke tydens onluste aan die brand gesteek is.

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, sê die provinsiale en nasionale regering het ’n groot rol om te speel in gevalle waar munisipaliteite nie hul verpligtinge nakom nie. “Dit is baie duidelik dat provinsiale ingryping in terme van artikel 139 reeds hier moes plaasvind. As die staat ernstig is om ’n betalingskultuur te vestig, moet hulle begin om maatreëls teen sulke munisipaliteite af te dwing.”

Soortgelyke plasings