AfriForum rig skrywe aan LUR rakende Oudtshoorn-munisipaliteit


Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, het namens AfriForum se Oudtshoorn-tak ’n skrywe aan Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gerig wat hom versoek om nie die terugwerkende verhogings aan raadslede – soos voorgestel deur die Oudtshoorn munisipale raad – toe te staan nie. Die skrywe verwys onder meer na die finansiële toestand van dié munisipaliteit, asook verskeie onopgeloste kwessies soos die dispuut rondom die bepaling van rioolheffings.

“Ons voel sterk daaroor dat dit ons munisipale raadslede se mandaat is om toe te sien dat verantwoordelike plaaslike regering en bestuur plaasvind. Om nou vir terugwerkende verhogings te vra – te midde van wat as die ergste droogte in 100 jaar bestempel word, asook die gepaardgaande ekonomiese krisis van die dorp – strook nie met ons siening van verantwoordelike bestuur nie,” sê Greyling.
Die munisipaliteit hou die plaaslike gemeenskap aan ’n lyntjie rakende navrae wat eenvoudig nie beantwoord word nie, terwyl ’n petisie ook beplan word om verdere druk op die munisipale raad vir klarigheid te plaas. “Ons staan op die vooraand van ’n verkiesing en ons kan nie ’n plaaslike regering ondersteun as hulle nie verantwoordelikheid neem en in belang van elkeen optree nie. Ons nooi die publiek uit om deel te raak van AfriForum – ’n organisasie wat bo hedendaagse uitdagings uitstyg en Suid-Afrika werklik ’n beter plek vir sy inwoners maak,” sluit Greyling af.

Soortgelyke plasings