AfriForum rig skrywe aan Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n skrywe aan die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin aangedring word op die onmiddellike skoonmaak van alle rioolstortings in Barkly-Wes, die onmiddellike ondersoek na die omvang van rioolblokkasies en -stortings in die omgewing, asook die uitvoering van ’n volledige oudit oor die toestand en geskiktheid van Barkly-Wes se huidige rioolpypleidingstelsel. AfriForum verwag ook ’n aksieplan vir die nodige herstelwerk en opgradering van dié rioolstelsel om sodoende verdere besoedeling te voorkom.

AfriForum se Kimberley-tak het op 12 Oktober 2018 die Barkly-Wes Primêre Skool se terrein skoongemaak en ontsmet nadat dit vir die derde keer vanjaar met riool oorstroom is. Met dié aksie wou die tak verseker dat die kinders so spoedig moontlik in ’n skoon en veilige omgewing kan skoolgaan.
Die burgerregtewaghond eis dat die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit binne vyf werksdae terugvoer aan hom gee.

Soortgelyke plasings