|

AfriForum rig simboliese monument op vir 783 korrupsieklagtes teen Zuma

AfriForum en die burgerregte-organisasie se jeugvleuel het vandag ’n simboliese monument met 783 moere vir elke korrupsieklag teen pres. Jacob Zuma by Groot Marico in Noordwes opgerig.

Dié optrede kom nadat die provinsiale regering in Noordwes onlangs met bouwerk aan ’n monument vir Zuma begin het wat sowat R1,7 miljoen gaan kos.

Die Noordwes-regering het op dié kleiner monument besluit nadat sy planne vir ’n 6 meter hoë standbeeld ter waarde van R6 miljoen vroeër weerstand van opposisiepartye en die gemeenskap ontlok het.

AfriForum het vroeër na die aankondiging van die aanvanklike groot beeld ingegryp en ’n PAIA-aansoek ingedien om sekere inligting aan te vra rakende die oprigting van die beeld.

Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Noordwes, meen die organisasie se ingryping het direk daartoe gelei dat die projek gestaak is.

“Ons is vandag weer hier om kapsie te maak teen Noordwes se planne om steeds ’n monument vir Zuma op te rig. Zuma het nog niks goed vir land beteken nie en die geld wat op ’n standbeeld vir hom gemors gaan word, kon eerder gebruik geword het om infrastruktuur in die dorp te herstel en dienste aan die gemeenskap te lewer.”

Verteenwoordigers van AfriForum en AfriForum Jeug is kort nadat hulle die simboliese monument aanmekaar gesit het deur omstanders gedreig dat hulle aangerand en hul toerusting gebreek sal word. Die plakkate en banier is daarna verbrand.

Wat die nuwe monument vir Zuma en 45 ander rekrute van Umkhonto weSizwe betref, is die platform reeds gebou.

’n Woordvoerder van die departement kuns, kultuur en tradisionele sake in Noordwes, het vroeër gesê die monument sal die vorm van ’n staalstruktuur met ’n vuurbal wees waarop die gesig van Zuma is.

Die idee om ’n monument vir Zuma op te rig, is klaarblyklik dié van Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, wat ’n stoere ondersteuner van die president is.

Terwyl inwoners van Groot Marico nie veel dink van die beoogde monument nie, meen die departement dit moet toerisme bevorder.

Oosthuizen meen die oprigting van ’n standbeeld is totaal onvanpas gegewe die hoë vlakke van korrupsie en armoede in die land.

“’n Standbeeld van pres. Zuma kan nie opgerig word nie omdat hy onder meer 783 klagtes van bedrog en korrupsie teen hom het, in ’n Nkandla-skandaal betrek is waar miljoene rand onregmatig aan sy huis bestee is en hy verantwoordelik is vir ’n enorme hoë werkloosheidsyfer wat tot haglike omstandighede en armoede bydra.”

Benewens Mahumapelo se steun vir Zuma, lê die rede waarom die standbeeld juis by Groot Marico opgerig word, waarskynlik ook in die geskiedenis.

Die verbanning van die ANC in 1960 het tot die stigting van uMkhonto we Sizwe (MK), die gewapende vleuel van die ANC, gelei. Zuma het aan sabotasie-aksies van MK in Natal deelgeneem en beplan om Suid-Afrika vir militêre opleiding in die buiteland te verlaat. MK het in 1963 beplan om 45 nuwe rekrute vir opleiding te stuur waarvan Zuma een was. Die plan was dat hulle die sogenaamde “Vryheidstrein” na Zambië sou neem. Die veiligheidspolisie het egter van die plan te hore gekom en ’n operasie beplan om hulle in hegtenis te neem. In Junie 1963 , toe die groep waarvan Zuma deel was na Botswana op pad was, is hulle in Groot Marico naby Zeerust gearresteer. Zuma is 90 dae alleen by die polisiestasie in Hercules aangehou.

 

Soortgelyke plasings