|

AfriForum rig dringende skrywe aan Wes-Kaapse minister oor natuurreservaat

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Stellenbosch-tak het op 23 Junie 2020 ’n dringende opvolgskrywe gerig aan Anton Bredell, Wes-Kaapse Minister van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, nadat daar met kommer kennis geneem is van die Stellenbosch Plaaslike Munisipaliteit se voorneme om ’n gedeelte van die Papegaaiberg Natuurreservaat af te sny, te hersoneer en te skenk aan mense wat tans besig is om dié grond onwettig te beset.

Die skrywe volg ’n vroeëre skrywe in Maart vanjaar aan die munisipaliteit om dié aangeleentheid aan te roer. AfriForum het tot nou toe nog geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.

Volgens AfriForum maak die munisipaliteit se voorneme om ’n gedeelte van die reservaat af te sny en mense te “beloon” wat die grond tans onwettig beset ’n bespotting van die streng maatreëls wat ingestel is om die biodiverse ekostelsel van die Papegaaiberg Natuurreservaat te beskerm.

“Die Stellenbosch-takbestuur het hul ontevredenheid oor die huidige situasie uitgespreek en dringende samesprekings met die Minister versoek om alternatiewe te bespreek. Die munisipaliteit se voornemende optrede kan ’n gevaarlike presedent skep. Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie eens die moeite gedoen het om op AfriForum se eerste skrywe te reageer nie en dus is AfriForum genoodsaak om die aangeleentheid verder te voer tot op provinsiale vlak,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

SMS “Stellenbosch” na 45265 (R1 per SMS) indien jy bekommerd is oor die toekoms van die Papegaaiberg Natuurreservaat.

  • Lees die vorige verklaring hier.

Soortgelyke plasings