AfriForum-rehabilitasie van Vaalrivier goed op dreef


Die besoedeling van die Vaalrivier – vanaf die rivier se oorsprong noord van Ermelo tot by die invloei daarvan in die Oranjerivier by Douglas – is ’n nasionale ramp. Om die rivier te help rehabiliteer, het AfriForum-takke die gemeenskappe in 15 dorpe en een stad langs die rivier gemobiliseer om stappe te doen om die invloed van hierdie besoedeling op fauna en flora in en langs die rivier te beperk.
AfriForum en verskeie ander organisasies wend nou pogings aan om die regering te oorreed om die probleem op te los. Regeringsingryping is egter nie onmiddellik moontlik nie, aangesien plaaslike munisipaliteite eers die nodige fondse moet bekom om rioollekkasies te herstel en die doelbewuste besoedeling van die rivier hok te slaan.

“Ons kan egter nie onbepaald wag totdat die regering hierdie probleem oplos nie. Daarom het gemeenskapslede in Standerton, Ermelo, Villiers, Vereeniging, Vanderbijlpark, Meyerton, Sasolburg, Parys, Vredefort, Orkney, Klerksdorp, Stilfontein, Bloemhof, Vaalharts, Kimberley en Barkly-Wes aktiewe bakterieë in die rivier vrygelaat. AfriForum se veldtog om die Vaalrivier te red, het ’n innoverende inslag wat die huidige omgewingsramp gaan help beredder deur aktiewe,  goeie bakterieë in die water vry te laat om die riool af te breek en suurstof in die rivier terug te plaas. Dit is deel van AfriForum se korttermynprojek om die Vaalrivier te help red terwyl meer volhoubare projekte en planne in werking gestel word – met of sonder die regering se samewerking,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake.
“Die organisasie Save The Vaal Environment (SAVE) het tereg opgemerk dat die regering ernstig fouteer om aan te voer dat visvrektes weens seisoenverandering voorkom. Indien die regering nie sy verantwoordelikheid in hierdie verband nakom nie, sal AfriForum regstappe instel om onbeholpe amptenare te dwing om aandag aan die ramp te gee,” sê Pawson.

Volgens AfriForum stort die regering daagliks minstens 1 500 megaliter gedeeltelik behandelde of onbehandelde riool in die Vaalrivier.
AfriForum se mediumtermynaksies sluit in om saam met ander organisasies te werk om onder meer rioolpompe en -aanlegte te herstel. AfriForum se langtermyndoelwitte sluit in die skep van bekostigbare gemeenskapinfrastruktuur met die nuutste tegnologie sodat gemeenskappe hul water self kan suiwer sonder om op die regering te moet wag.
Mense wat wil help om riviere te rehabiliteer, kan op AfriForum se webblad registreer om aan die volgende rehabilitasie-aksie deel te neem. Saam kan ons die Vaalrivier red.
Is jou rivier besoedel? SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1) en gee AfriForum die mandaat om die gehalte van jou dorp se water te toets.

Soortgelyke plasings