| | |

AfriForum-regspan behaal oorwinning vir Grey-leerders in kwarantyn

Die burgerregteorganisasie AfriForum het pas verneem die 19 leerders van Grey Kollege in Bloemfontein wat sedert Dinsdag deur die staat in kwarantyn gehou is, nou in hulle ouers se sorg gelaat word en toegelaat sal word om self te isoleer vir die vereiste 14 dae. AfriForum beskou dit as ’n reuse-oorwinning vir die regte van die kinders en hul ouers, maar ook almal wat in die tyd aan magsvergrype van die staat blootgestel word.

Dít volg nadat ’n dringende prokureursbrief gister deur Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, gestuur is aan dr. Zweli Mkhize, Minister van Gesondheid, Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta), om die leerders se selfisolasie te eis.

Nadat ’n matriekleerder wat in die skoolkoshuis tuisgaan Dinsdag positief vir COVID-19 getoets het, is die 19 leerders (wat almal ook koshuisinwoners is) deur amptenare na ’n gastehuis naby die skool verskuif om daar in kwarantyn gehou te word. Hulle ouers is in kennis gestel dat die kinders vir die volgende 14 dae “die eiendom van die staat sal wees” en nie besoek mag ontvang nie. Waar hulle in die koshuis in enkelkamers gehuisves is, is hulle boonop drie tot vier saam in kamers geplaas in die gastehuis, wat die handhawing van sosiale afstande onmoontlik gemaak het. Hulle is dus eerder in gevaar gestel om die virus aan te steek, as om hulle daarteen te beskerm.

Volgens Carien Bloem, bestuurder van Onderwys by AfriForum, het die amptenare se optrede in hierdie geval die leerders en ouers se regte geskend en ingedruis teen ’n hofbevel van 3 Junie 2020 wat bepaal dat selfisolasie ’n opsie moet wees vir mense wat positief vir die virus toets, of in kontak was met iemand wat positief getoets het, indien hulle verkies en oor die vermoë beskik om self te isoleer.

“AfriForum is dankbaar dat geregtigheid geseëvier het en die leerders nou veilig in hul ouers se sorg teruggeplaas word. Ons sal onverwyld intree in gevalle soos hierdie, want dit is onaanvaarbaar dat kinders as politieke speelballe misbruik word,” sê Bloem.

Soortgelyke plasings