AfriForum: Raad vir Eiendomsagente se voorgestelde resolusie is blatante rassisme

AfriForum het vandag ’n skrywe aan Lindiwe Sisulu, die minister van menslike nedersettings, en die Raad vir Eiendomsagentskappe gerig wat aandring dat dié raad se voorgestelde resolusie om “voorheen benadeelde individue” onregverdig te bevoordeel, geskrap word. Die burgerregteorganisasie is ook besig om regsadvies in te win, sou die resolusie in werking gestel word.

Tydens ’n voorlegging oor die nakoming van eiendomswetgewing het die raad die implementering van ’n resolusie voorgestel om sy “mandaat van die minister van menslike nedersettings te vervul om die eiendomsbedryf te transformeer”. Hierdie resolusie behels dat “voorheen benadeelde” eiendomsagente kan aansoek doen vir:

  • vrystelling van betalings vir getrouheidsfondssertifikate, voortgesette professionele ontwikkeling (VPO) en boetes;
  • vrystelling van voldoening aan VPO-vereistes;
  • vrystelling van voldoening aan opleidingskwalifikasies; en
  • vrystelling van die indiening van ouditverslae vir trustrekeninge.

“Volgens hierdie voorgestelde resolusie geld verskillende reëls vir verskillende groepe mense, afhangend van velkleur. Dit is onaanvaarbaar dat sekere mense basies daarvan vrygestel word om verantwoordbaar te wees, terwyl ander verplig word om aan sekere standaarde te voldoen,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

Volgens Taute sal die implementering van hierdie resolusie ’n gevaarlike presedent skep ten opsigte van ander professionele liggame.

“Kontrolemaatreëls soos dié bestaan juis om die publiek te beskerm en te keer dat hulle ingedoen word. Dit maak geensins logies sin dat sekere mense daarvan kwytgeskeld word nie. Inteendeel, dit is ’n skreiende onreg,” sluit Taute af.

Besoek www.afriforum.co.za/raad-vir-eiendomsagente-se-voorgestelde-resolusie-is-blatante-rassisme/ om AfriForum se veldtog teen hierdie blatante rassisme te ondersteun.

Klik hier vir die skrywe.

Soortgelyke plasings