|

AfriForum provinsiale opleidingskonferensies skop in Gauteng af

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope naweek die eerste van nege provinsiale opleidingskonferensie vir nuwe plaaslike takbestuurslede in Gauteng aangebied.

AfriForum het sedert die begin van die jaar ʼn totaal van 21 nuwe takke sterker geword en verskeie gevestigde takke spog ook met ʼn nuwe tak-bestuur. Die konferensies is dus gefokus op die instandhouding en uitbreiding van plaaslike AfriForum-takke en word aangebied om nuwe bestuurslede op te lei rakende die verskillende prosesse, verantwoordelikhede en projekte van dié burgerregte-organisasie.

Administratiewe verantwoordelikhede, insluitend lidmaatskaap, bemarking en finansies, asook spesifieke portefeulje-opleiding, naamlik veiligheid, omgewingsake, plaaslike regering en die jeug word tydens dié konferensies bespreek.

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die Gautengse opleidingskonferensie gesels oor die burgerregte-organisasie se strategieë en reglemente, asook die belangrikheid van plaaslike AfriForum-strukture.

Opkomende projekte, insluitend boomplantmaand, waartydens 130 AfriForum-takke landwyd meer as ’n duisend bome gaan plant, asook die burgerregte-organisasie se maand van selfstandigheid in Oktober is ook tydens dié geleentheid bespreek.

Oor die volgende twee weke sal daar konferensies vir takke in Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, Vrystaat, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap én die Noord-Kaap aangebied word. Om ’n AfriForum-tak te stig, moet minstens 100 lede aansluit waarvan 10 hulself beskikbaar moet stel om as bestuurslede te dien.

Raak betrokke deur by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit: SMS (R1) “Aansluit” na 45344.

Soortgelyke plasings