|

AfriForum pols Minister oor verlenging van amnestietydperk

AfriForum se regspan het vandag wéér ’n skrywe aan Bheki Cele, Minister van Polisie, gerig om navraag te doen oor die moontlike verlenging van die vuurwapenamnestietydperk.

Dít volg nadat AfriForum ook op 25 en 30 Maart 2020 skrywes aan Cele en genl. Khehla Sithole, nasionale polisiekommissaris, gerig het waarin die organisasie sy kommer uitgespreek het oor die feit dat vuurwapeneienaars nie tydens vlak 5 van inperking van die amnestietydperk gebruik kon maak nie. Cele het egter op 22 April 2020 in ’n skrywe aan AfriForum gesê hy oorweeg om die parlement vir ’n verlenging van die amnestieperiode te nader. Lt.genl. Moeketsi David Sempe het dit kort daarna in ’n direktief bevestig.

Die amnestietydperk is op 27 Oktober 2019 aangekondig en strek vanaf 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020. Vuurwapeneienaars wat in besit van ongelisensieerde vuurwapens is, word onder meer in dié tyd die geleentheid gegun om die vuurwapens by hul naaste polisiekantoor in te handig sonder dat hulle daarvoor vervolg word.

“Mense wat van die amnestietydperk gebruik wil maak, behoort die geleentheid gegun te word om dit na behore te doen. Dit was en is steeds ’n uitdaging in die afsonderingstydperk om deskundiges te nader om duidelikheid te kry oor wat presies die amnestie vir ’n persoon wat daarvan gebruik wil maak inhou en watter stappe gedoen moet word indien hy/sy weer vir ’n vuurwapen wat by die polisiestasie ingegee word, aansoek wil doen,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings