Spyskaart +

AfriForum plant 2000 bome in Boomplantmaand

Oktober 2, 2015 deur Esmarie Prinsloo

AfriForum het Suid-Afrika met groen spatsels getooi deur 2000 bome te plant in September, as deel van hulle nuwe inisiatief, Boomplantmaand.


“Gemeenskappe regoor die land het Boomplantmaand in styl gevier deur bome te plant, gesprekke by skole te geniet en indringerplante uit te roei. Wat die projek so besonders maak is dat gemeenskappe mekaar uitgedaag het om te kyk wie die groenste kan gaan,” het Julius Kleynhans, die hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

Die organisasie en sy lede is egter nog nie klaar met hulle groen-gier nie. AfriForum begin ’n volhoubare woudskeppingsprojek, waarin gemeenskappe versoek sal word om bome te borg.

“Die publiek kan by AfriForum inskakel vir R60 per maand. Elke R60 wat geborg word, sal een boom vir die projek aankoop. Inheemse en vrugtebome sal strategies geplant word tot voordeel van die natuurlike omgewing en plaaslike gemeenskappe,” het Kleynhans gesê.

Mense wat “’n boom ’n maand” wil borg, kan “Boom” SMS na 45354. R1/SMS.

AfriForum het die 2000 bome – soos gelys in die onderstaande tabel – regoor die land geplant:

Provinsie Getal bome geplant
Gauteng 727
Noordwes 100
Limpopo 125
Mpumalanga 194
Vrystaat 100
Kwazulu-Natal 90
Noord-Kaap 198
Oos-Kaap 90
Wes-Kaap 361
Totaal 2000

ʼn Onlangse studie in New York het bewys dat die toevoeging van ʼn bykomende 343 bome/km² die tempo van asma by kinders tussen 4 en 5 met 24% – 29% verlaag (Lovasi et al, 2008).

“Ons is afhanklik van die ekostelseldienste wat bome verskaf, wat voedsel, medisyne, brandstof, klimaat- en erosiebeheer asook die suiwering van die lug insluit,” het Kleynhans gesê.

AfriForum het op twee bome gefokus in Boomplantmaand:

  Wetenskaplike naam Engels Afrikaans
1 Combretum krausii Forest Bushwillow Bosvaderlandswilg
2 Heteromorpha arborescens Parsley Tree Wildepieterseliebos

SMS jou dorp se naam na 45354 om by AfriForum aan te sluit. R1/SMS.