| | |

AfriForum plaas minister op terme oor rassediskriminasie in COVID-19-hulp

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sowel die Minister as die Departement van Kleinsakeontwikkeling vanmiddag op terme geplaas om ’n skriftelike onderneming te gee dat ras op geen wyse enige rol sal speel in hulpverlening aan ondernemings wat om verligting weens die Covid-19-pandemie by die regering aansoek doen nie.

Minister Khumbudzo Ntshavheni het vandag gesê verligting gaan op die grondslag van demografiese en geografiese verteenwoordiging plaasvind. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit reeds bekend dat “demografiese verteenwoordiging” ’n kodewoord is wat die regering gebruik om rassediskriminasie teen minderhede te probeer regverdig.

Kriel sê ook dit is vreemd dat kommer oor die Departement se gebruik van ras deur die minister as “fopnuus” afgemaak word – terwyl die Departement wel toegegee het dat die dokument waaruit hierdie kommer spruit van die departement afkomstig is. Verder is dit ook op die webblad waar ondernemings vir hulp kan aansoek doen baie duidelik dat sakeondernemings hul swartbemagtigingstatus moet aandui.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, Minister van Toerisme, het ook vroeër vandag tydens ’n mediakonferensie bevestig dat aansoeke om finansiële hulp in die toerisme sektor op ’n swartbemagtigingsgrondslag gedoen sal word.

“In krisistye soos hierdie waarin almal saam teen die gemeenskaplike vyand – korona – moet veg, is dit immoreel dat die regering dit op enige wyse oorweeg om die situasie te misbruik om hul rasse-ideologie te bevorder,” sê Kriel.

AfriForum eis dat die Minister teen Woensdag 25 Maart 2020 om 16:30 aan AfriForum bevestig dat die regering nie sal volhard met die voorneme om op ’n rassegrondslag teen aansoekers te diskrimineer nie. Indien die Departement nie aan hierdie versoek gehoor gee nie, is AfriForum van voorneme om met ’n dringende hofaansoek teen die Minister en die Departement voort te gaan.

Soortgelyke plasings