|

AfriForum parlement toe oor Eskom-tariewe en brandstofheffing

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag twee energieverwante petisies, onderskeidelik oor Eskom se prysskok en die onlangse brandstofheffing, by die parlement ingedien.

Eskom vra vir ’n verhoging van 15% per jaar oor die volgende drie jaar by die nasionale energiereguleerder (Nersa). Nersa sal in Maart 2019 aankondig wat sy besluit oor Eskom se tariefaansoek is.

Volgens Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, wat die petisie oor Eskom ingedien het, het die kragreus onder verskeie korrupsieskandale deurgeloop en het die tesourie ook verslae uitgereik oor Eskom se verskeie oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1 van 1999.

Eskom was vanjaar die hoofwanbesteder van Suid-Afrika se staatsdepartemente (R19,6 miljard), met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) tweede met R10,5 miljard en Transnet derde met R8,1 miljard.

Mostert meen die wanbestuur van nuwe kragstasies en rampspoedige steenkoolkontrakbestuur laat Suid-Afrika onder hewige beurtkrag deurloop.

“Eskom en die elektrisiteitsektor moet dringend aandag op die hoogste vlak geniet. Dit is nou reeds baie duidelik dat Eskom, as ’n struktuur met ’n monopolie op kragopwekking, nie na behore funksioneer om betroubare elektrisiteit te verseker nie. Genoeg is genoeg.”

Volgens Mostert moet daar ’n parlementêre debat plaasvind oor hoe Eskom gedesentraliseer kan word en moet daar na oplossings gesoek word om Eskom te ontbondel. “Ons versoek die parlement ook om ’n kommissie van ondersoek oor Eskom se sake aan te beveel,” sê Mostert.

Phakamani Hadebe, uitvoerende hoof van Eskom, het op 16 November gesê daar is twee redes hoekom die kragverskaffer beurtkrag ingestel het naamlik onbeplande instandhouding en ’n tekort aan steenkool.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het verlede week tydens ’n mediakonferensie by Eskom se hoofkantoor in Johannesburg erken dat die kragreus nie goed kommunikeer oor beurtkrag nie. Om seker te maak dat beurtkrag na die feesseisoen iets van die verlede is, is die verlof van senior personeellede van Eskom gekanselleer. Hy het sakelui die versekering gegee dat wanneer die meeste maatskappye teen die helfte van Januarie volstoom begin werk, dinge beter sal gaan.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, het die burgerregte-organisasie se petisie oor die onlangse brandstofpryse ingedien.

“Ondanks ’n afname van R1,85 per liter wat op Woensdag 5 Desember aangekondig is, bly die brandstofprys hardnekkig hoog op R15,02 per liter. Loodvrye 93-brandstof het in Maart vanjaar nog R13,54 per liter gekos en R12,61 in 2015,” sê Brink.

Kenners meen ook dat die jongste daling in 2019 deur nuwe stygings oortref kan word en dat die brandstofprys aan die einde van 2019 tot R20 per liter kan wees.

Die algehele brandstofheffing beloop nagenoeg R4 van ’n liter brandstof se prys en nog sowat R2 per liter finansier die Padongelukkefonds (POF). Hierdie heffings is vanjaar onderskeidelik met 22c en 30c per liter verhoog.

Volgens Brink moet daar weer na die brandstofheffings gekyk word. “Sowel nasionale en provinsiale staatsdepartemente en die meeste staatsbeheerde ondernemings het in 2017/2018 ten minste R51 miljard se onreëlmatige besteding aangegaan.

Die POF, wat sowat R2 van elke liter brandstof se prys ontvang en oor ’n jaarlikse begroting van sowat R37 miljard beskik, was vanjaar in die nuus omdat hulle R1 666 per maand per stoel ingevolge ’n twyfelagtige kantoormeubelkontrak opdok,” meen hy.

“Ons vra dat daar ’n parlementêre debat oor die verlaging van die onderskeie brandstofheffings in die konteks van hierdie vermorsing en algehele ekonomiese beleid plaasvind, want verbruikers kan eenvoudig nie meer verdere druk absorbeer nie,” meen Brink.

Die twee petisies is ook vandag aan die departement van energie gestuur en kan op AfriForum se webtuiste geteken word:

https://afriforum.co.za/verlaag-die-brandstofprys-verder-en-keer-nog-stygings/

https://afriforum.co.za/eskom-prysskok-van-15/

Soortgelyke plasings