AfriForum pak gebreke in gesondheidstelsel: Vertel jou storie


Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 16 April 2019 ’n veldtog van stapel gestuur om die gesondheidstelsel se skokkende swakplekke bloot te lê en verantwoordbaarheid in dié sektor te verhoog. AfriForum nooi die publiek uit om hul verhale oor swak dienslewering en behandeling by hospitale en klinieke aan AfriForum te stuur sodat dit in ’n omvattende verslag opgeneem kan word.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die organisasie word toenemend met klagtes van swak behandeling en growwe nalatigheid by veral staatsinstellings oorval. “Hierdie klagtes wissel van mense wat deur ongekwalifiseerde dokters behandel word tot personeel wat op pasiënte skree, hul hardhandig behandel en dalk uiteindelik ook hul dood veroorsaak.”
AfriForum besef dit is ’n wydverspreide probleem wat dringende, maar langdurige, aandag verg. Daarom sal hierdie verslag met sowel die minister van gesondheid as die betrokke plaaslike owerhede bespreek word en by die Wêreldgesondheidsorganisasie ingedien word. Benewens die bewusmaking wat dit sal skep, sal dit ook as klinkklare bewys dien dat die regering se beoogde nasionale gesondheidsversekering eenvoudig nie kan werk nie. Dit is die begin van ’n voortdurende, veelfasettige proses.
Brink sê daar is wel areas van uitnemendheid in die openbare gesondheidsektor en baie werknemers probeer hul bes ondanks groot uitdagings, maar korrupsie, onbevoegdheid en ’n gebrek aan verantwoordbaarheid vier helaas hoogty.

“Die openbare sektor word toenemend deur sistemiese, geldelike, arbeids- en politieke probleme verlam en die publiek trek uiteindelik aan die kortste ent. Terselfdertyd word die privaat sektor, wat die oorgrote deel van die wêreldklasdienste uitmaak, deur die regering geboelie.”

AfriForum wil jou storie hoor: Besoek www.afriforum.co.za/vertel-jou-verhaal-gesondheidsverslag/ om jou storie met ons te deel.

Soortgelyke plasings