|

AfriForum pak EFF oor haatspraak by HS Overvaal

Deur Alet Rademeyer

Die burgerregte-organisasie AfriForum sal ’n klag van haatspraak ingevolge die gelykheidswet teen die EFF aanhangig maak as die leierskap van die party nie optree nie teen betogers by die Hoërskool Overvaal waar gruwelike rassistiese en aanhitsende uitsprake gemaak is.

Van die oproeriges het voor die skool frases gedreunsing soos White man you must die, Shoot to kill the Boere en Voertsek white man.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die organisasie se regspan sal vandag ’n prokureursbrief op die leierskap van die EFF beteken, waarin die party gevra word om hul standpunt oor die voorval te verklaar. “Indien hierdie optrede nie EFF-beleid is nie, verwag ons dat die party se leierskap hulle onvoorwaardelik daarvan distansieer en tugstappe neem. Indien die party egter nie bereid is om dit te doen nie, sal ’n klag van haatspraak ingevolge die gelykheidswet teen die party aanhangig gemaak word.”

Die EFF het gister en vandag voor die skool betoog nadat 55 Engelse leerlinge ingevolge ’n hofuitspraak nie tot die skool toegelaat is nie.

Regter Bill Prinsloo het in die Pretoriase hooggeregshof die departement van onderwys se opdrag dat die skool die leerlinge moet inneem ter syde gestel.

Die skool se regspan het aangevoer die enkelmedium Afrikaanse skool is reeds vol en dat daar wel plek vir die leerlinge in twee naburige Engelse skole is.

Die departement se optrede is wyd veroordeel nadat dit aan die lig gekom het dat amptenare die hoofde van die ander twee skole glo gedwing het om te sê dat dié skole ook vol is terwyl dit nie die geval is nie.

Onderwyskenners wys die vinger na Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, wat met ’n politieke spel besig is en alles in sy vermoë doen om Afrikaanse skole en Afrikaans as onderrigmedium te vernietig.

Hy het aangedui dat die departement teen die hofuitspraak gaan appelleer.

Soortgelyke plasings