AfriForum oudit Vaaldriehoek en Wes-Rand se vullisterreine


AfriForum het die afgelope maand vullisterreine in sowel die Vaaldriehoek as aan die Wes-Rand geoudit as deel van die burgerregte-organisasie se jaarlikse veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 33 vrae gemeet word. AfriForum het bevind dat dringende veranderinge by sekere munisipaliteite gaan moet plaasvind ten einde te verseker dat vullisterreine aan wetgewing voldoen.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit onder meer faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie in. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om aan hierdie wetgewing te voldoen.
Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Vaaldriehoek en Wes-Rand, sê dat vullisterreine wat minder as 80% behaal het op standaard gebring moet word en dat munisipaliteite verantwoordelikheid vir afvalbestuur moet begin neem.

“Swak bestuurde vullisterreine het ’n negatiewe impak op sowel die omgewing as die gemeenskap. Dit is ook die gemeenskap se verantwoordelikheid om toenemende druk op munisipaliteite te plaas waar vullisterreine nie aan wetgewing voldoen nie.”

Ungerer het ook gesê dat daar wel  vullisterreine is wat die oudit met lof geslaag het.

“Meyerton het byvoorbeeld 96% behaal. Dit is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n vullisterrein bestuur moet word.”

Só het die dorpe gevaar:
 

Dorp Munisipaliteit Lisensienommer 2017 2018
Vereeniging
(Sonlandpark-oorlaaistasie)
Emfuleni PM     8%
Vanderbijlpark Emfuleni PM 28% 38%
Meyerton Midvaal PM 002/12-13/W0001 96% 96%
Westonaria (Libanon) Rand West City PM 16/2/7/C231/D21/Z 47% 9%
Robinson Ekurhuleni PM 16/2/7/C221/D11/22/P22   92%
Randfontein Rand West City PM B33/2/323/34/P12 33% 26%
Heidelberg Lesedi PM 18% 30%

 
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine wat tekortskiet op standaard gebring word.

Soortgelyke plasings