AfriForum opponeer hofaansoek deur Nelson Mandela-stigting om ou vlag te verban


Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan die Nelson Mandela-stigting (NMS) se hofaansoek teenstaan wat poog om die ou Suid-Afrikaanse vlag tot haatspraak te laat verklaar en verban. Dít volg nadat die NMS AfriForum as respondent tot hul aansoek gevoeg het. In sy teenkanting van hierdie saak sal AfriForum voorleggings maak om aan te dui dat dieselfde NMS-argumente netsowel aangevoer sou kon word om die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party- (SAKP-) en die ANC-vlag te laat verban.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik dat AfriForum nie die ou vlag gebruik nie en dat dié organisasie se teenkanting van hierdie aansoek bloot op gesonde regsbeginsels en ’n pleidooi vir konsekwentheid geskoei is.

“Die NMS voer aan dat die vlag aanstootlik is en om daardie rede verban moet word. Aanstootlikheid is egter nie voldoende rede om ’n simbool te laat verban nie. Om die waarheid te sê, die wese van spraakvryheid is daarin gesetel dat mense soms aan aanstootlike standpunte blootgestel word.”

Met betrekking tot AfriForum se standpunt dat die NMS se argument ook tot die verbanning van die SAKP- en ANC-vlag sou kon lei, verduidelik Roets dat kommunistiese leiers soos Josef Stalin en Mao Zedong, wat deur ANC-gesinde organisasies as helde vereer word, moordveldtogte teen hulle opponente gevoer het.

“Na beraming is 100 miljoen mense regoor die wêreld in die naam van kommunisme vermoor. Selfs in Suid-Afrika is aansienlik meer mense in die naam van kommunisme en die ANC en SAKP se sogenaamde ‘people’s war’ teen mededingende swart organisasies doodgemaak, vergeleke die hoeveelheid wat in die naam van apartheid doodgemaak is. Vir elke persoon wat tydens apartheid deur die regering van die dag doodgemaak is, het rofweg 30 mense in die naam van die ‘people’s war’ gesterf.”
“Presies dieselfde argumente wat deur die NMS aangevoer word waarom die ou vlag verban moet word, sal dus gebruik kan word om die SAKP of selfs die ANC se vlag te verban,” verduidelik Roets. “Dit is egter nie die aangewese manier om op aanstootlikheid te reageer nie.”

Soortgelyke plasings