|

AfriForum oorweeg waaksaamheidsopdrag teen polisielede wat in plaasaanval betrokke was

Die burgerregteorganisasie AfriForum het met kommer kennis geneem van die arrestasie van drie polisielede van die Ficksburg-polisiestasie met betrekking tot ’n plaasaanval wat op 13 Januarie 2020 naby Rosendal plaasgevind het. Die drie polisielede het op 3 Februarie 2020 in die Ficksburg-landdroshof verskyn. AfriForum konsulteer tans met sy regspan om alle regsremedies te oorweeg, insluitend ’n waaksaamheidsopdrag, om te verseker dat geregtigheid geskied.

“Daar word van polisielede verwag om selfs ’n hoër standaard te handhaaf as die gewone landsburger – hulle moet die bastion van geregtigheid simboliseer – nie die teenoorgestelde nie,” sê Joseph Renaud, veiligheidshoof vir die sentraalstreek by AfriForum.

“Die Vrystaatse boerderygemeenskap word reeds aanhoudend deur misdadigers bedreig; die laaste ding wat die gemeenskap nóú nodig het, is verdere verwoesting van die swak verhouding wat hulle reeds met die SAPD het,” sê Renaud.

Hierdie voorval kom verder op ’n ongeleë tyd vir Bheki Cele, minister van polisie, wat elke platform tot sy beskikking gebruik om homself te beywer vir die wysiging aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000 (wet 60 van 2000) om uiteindelik ’n verbod daarop te plaas dat privaat landsburgers vuurwapens mag besit.

“Ons hoop dat hierdie voorval Cele terug na die werklikheid sal ruk. Dit is onverstaanbaar dat sy plan om veiligheid in Suid-Afrika te verbeter afskop deur wetsgehoorsame landsburgers te ontwapen, terwyl sy eie SAPD blykbaar genoeg probleme het wat eers uitgesorteer moet word,” sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

AfriForum sal binnekort verdere stappe aankondig met betrekking tot die drie polisielede en sal die nodige stappe doen om te verseker dat kriminele aktiwiteite binne die SAPD die hoof gebied word.

Soortgelyke plasings