|

AfriForum oorsee om steun vir droogtehulp te werf

Talle boere gaan steeds gebuk onder vanjaar se droogte ondanks hewige reën wat vandeesweek fratsvloede in verskeie dele van die land tot gevolg gehad het.

Daarom gaan die burgerregte-organisasie vir die volgende twee weke organisasies in België, Nederland en Switserland besoek wat Suid-Afrikaanse boere goedgesind is om steun vir droogtehulp te werf.

AfriForum het vroeër vanjaar aangekondig dat hy ’n veldtog van stapel gaan stuur wat daarop gemik is om hulp aan boere te verleen.

Die burgerregte-organisasie het reeds vanjaar droogtehulp aan boere in die Vrystaat en Noordwes verleen deur sowat 300 ton se voer aan hulle te skenk. Dit is moontlik gemaak deur bydraes van die publiek sowel as donasies van twee Nederlandse organisasies genaamd Woord en Daad en Hulp Bij Bijzondere Noden.

Die boere wat tans hulp kry, is vroeër genader om aan te dui wat hul grootste behoeftes is.

Pieter Brink, ʼn boer wie se plaas in die Reddersburg-omgewing sedert 1836 in sy familie is, het vroeër gaan Forum Nuus gesê dat die gemiddelde boer verantwoordelik is vir sowat ses plaaswerkers se gesinne.

Hy meen dat nie net boere en verbruikers onder die droogte ly nie, maar dat plaaswerkers se inkomste, en dus die welstand van hul vroue en kinders, óók in gedrang is.

Die publiek kan betrokke raak deur hul naam na 38312 te SMS. Elke SMS sal ʼn R10-bydrae tot AfriForum se droogtefonds lewer.

Soortgelyke plasings