|

AfriForum oorhandig memorandum oor grondonteiening aan diplomatieke missies in Suid-Afrika

AfriForum het vandag ’n memorandum aan sowat 20 ambassades en hoëkommissariate in Pretoria oorhandig, waarin die burgerregte-organisasie kommer oor die regering se voorneme om onteiening sonder vergoeding te wettig, uitspreek.

Daarmee word die betrokke lande se steun teen sodanige onteieningsprosesse gevra.

In totaal is meer as 50 diplomatieke missies gekontak of besoek, insluitend die van die VSA, Verenigde Koninkryk, Duitsland, Japan, Namibië, Botswana, Australië, Singapoer, Nederland, België, Indië, asook ander groot handelsvennote van Suid-Afrika en lande wat sterk standpunt inneem ter beskerming van privaat eiendomsregte.

Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie wil toesien dat Suid-Afrika sal aanhou om buitelandse beleggings te ontvang, dat die ekonomie moet groei en daarmee saam ook werksgeleenthede en geleenthede vir volhoubare welvaartskepping vir almal in die land.

“Indien privaat eiendomsreg egter bedreig of afgeskaf word, kan dit ’n rampspoedige ekonomiese ineenstorting tot gevolg hê, iets wat ten alle koste voorkom moet word,” meen sy.

Dié aksie van vandag vorm deel van AfriForum se omvattende internasionale veldtog teen onteiening sonder vergoeding.

Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof, en Ernst Roets, die organisasie se adjunk- uitvoerende hoof, besoek ook tans die VSA om gesprekke aldaar in dié verband met meningsvormers te voer. Verder sal besoeke aan Australië, Europa en Brittanje eersdaags plaasvind.

Kriel het onlangs verwys na kommentators en politici wat gal braak oor AfriForum se internasionale veldtog en meen die ou en afgesaagde strategie om die geregverdigde kommer wat onder die groot gros gematigde lede van minderheidgemeenskappe heers valslik as “regs” af te maak, nie meer werk nie.

Kriel meen die ANC probeer mense paai met naïewe uitsprake soos dat pres. Cyril Ramaphosa nooit onteiening sonder vergoeding sal deurvoer nie en dat sy uitsprake dat hy dit wel gaan doen bloot ’n poging is om sy mag te konsolideer en die EFF te uitoorlê.

“AfriForum het dié storie al voorheen gehoor. Van die Zimbabwiese boere wat die afgelope jare in hul stryd vir geregtigheid deur AfriForum bygestaan is, het by meer as een geleentheid gesê dat hulle ook destyds Mugabe se uitsprake oor grond afgemaak het as politiekery om kiesersteun te behou. Hulle het gevolglik laag gelê en al hul hoop op ‘konstruktiewe’ gesprekke met die Mugabe-regering geplaas. Die uiteinde is daar vir almal om te sien.”

Volgens Kriel is Suid-Afrika egter nie Zimbabwe nie. Anders as in Zimbabwe is sterk burgerlike instellings soos AfriForum gerat is om internasionale druk te help genereer om die skending van eiendomsreg te help verhoed.

Soortgelyke plasings