|

AfriForum oorhandig stortingsterreinouditverslag aan minister van omgewingsake

Die burgerregte-waghond AfriForum het vandag ʼn memorandum oorhandig aan die kantoor van Edna Molewa, minister van omgewingsake, wat vereis dat dié departement dringend moet intree om die swak toestand van vullisterreine regoor Suid-Afrika aan te spreek.

’n Vullisvragwa – gevul met voorwerpe wat ingevolge toepaslike wetgewing nie op ’n stortingsterrein hoort nie, soos dierkarkasse – het die burgerregte-organisasie tydens die geleentheid vergesel om die huidige toestand van vullisterreine uit te beeld.

Dít volg nadat AfriForum in Augustus die resultate van hul nasionale vullisterreinoudit bekendgemaak het, wat toon dat ʼn totaal van 68 vullisterreine in die land nie aan die nodige regulasies voldoen nie, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (Wetno. 59 van 2008).

Volgens die burgerregte-organisasie is onvoldoende afvalbestuur, die ineenstorting van infrastruktuur, korrupsie en gesondheids- en veiligheidskwessies van die hoofoorsake vir die huidige toestand van vullisterreine.

Dié nasionale vullisterreinoudit-projek, wat spruit uit die burgerregte-organisasie se #skoonSA-inisiatief wat in Mei 2014 geloods is, streef na positiewe verandering in die bestuur van afval oor die hele Suid-Afrika, asook om betrokke amptenare verantwoordbaar te hou.

Om hierdie rede is die minister in Mei 2016 genader om die gebrekkige kommunikasie op plaaslike regeringsvlak aan te spreek. Volgens Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, sukkel die burgerregte-organisasie egter die afgelope drie maande om haar te bereik.

AfriForum het dus vandag die verslag van hul nasionale vullisterreinoudit, asook ʼn memorandum by die departement van omgewingsake oorhandig. Dié memorandum vereis dat die minister dié verslag dringend moet deurlees, ʼn opvolgvergadering binne 30 dae moet reël om die verslag te bespreek, asook om dringend oplossings te vind en ʼn tydraamwerk om verbeterings op stortingsterreine landwyd aan te bring.

Chris Boshoff, projekkoördineerder van AfriForum, sê die swak toestand van vullisterreine hou verskeie gesondheidsimplikasies, byvoorbeeld die besoedeling van lug en water, vir gemeenskappe en die omgewing in en meen dat die minister dringend moet optree.

Boshoff lys die volgende kommerwekkende kwessies wat op verskeie stortingsterreine gevind is:

  • Onwettige mediese afval word op die terreine gestort, met die gevolg dat ondergrondse water besoedel kan word.
  • Dit het aan die lig gekom dat daar families met kinders woonagtig is op sommige van die terreine.
  • Diere is aangetref wat op stortingsterreine wei en van die afval eet.
  • Dierkarkasse wat onwettig gestort is en nie bedek is, soos die regulasie stipuleer nie, is ook op sommige van die terreine aangetref.
  • Daar is laastens gevind dat swak rehabilitasie en kompaksie op die terreine plaasvind, met die gevolg dat die vullis rondwaai en omliggende omgewings besoedel.

“Ons is nie vandag hier om vyandig op te tree nie, maar eerder om hande met die minister te vat om die toestand van vullisterreine landwyd te verbeter,” meen hy.

Nosipho Ngcaba, direkteur generaal van die departement van omgewingsake en Mark Gordon, adjunk direkteur-generaal van chemiese stowwe en afvalbestuur, het omstreeks 12:00 die verslag in ontvangs geneem en onderneem om binne 30 dae daarop te antwoord en met AfriForum in verbinding te tree.

Soortgelyke plasings