AfriForum oorhandig emmers vol riool en brief aan munisipaliteit


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Ellisras-tak het vandag emmers vol rou riool by die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit afgelewer as deel van ’n bewusmakingsprojek oor die voortslepende rioolprobleme in dié dorp.
Die organisasie het tydens die aksie ook ’n brief aan verteenwoordigers van die munisipaliteit oorhandig waarin dit ’n aksieplan en afskrifte van toepaslike rioolwaterbestuur- en rioolwerklisensies in Ellisras van die munisipaliteit eis.
Die brief is deur Charity Raditabe, waarnemende munisipale bestuurder, ontvang waarna die partye vergader het. Na afloop van die vergadering het verteenwoordigers van die munisipaliteit lede van AfriForum na die probleemgebiede vergesel.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, gaan Ellisras voortdurend onder rioolprobleme gebuk, wat tot ernstige waterbesoedeling lei en gevolglik ook groot gesondheidsrisiko’s vir mense en diere inhou.
Volgens Chris Boshoff, AfriForum se omgewingsakekoördineerder, is dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid om daadwerklik in te gryp.

“Artikel 24 van die Grondwet bepaal dat alle Suid-Afrikaanse burgers die reg het op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie. Die munisipaliteit het dus ’n grondwetlike plig om skoon drinkwater aan die gemeenskap te verskaf en in die ekostelsel terug te sit,” sê Boshoff.

Volgens Grobbelaar hoop AfriForum om ’n goeie samewerkingsverhouding met die munisipaliteit te bou sodat probleme in Ellisras spoedig getakel kan word. Die situasie sal deurlopend gemoniteer word.

Soortgelyke plasings