AfriForum oorhandig eksemplaar van Kill the Boer aan president Cyril Ramaphosa


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n eksemplaar van die boek Kill the Boer per hand by die kantoor van president Cyril Ramaphosa afgelewer, ten einde die kernargumente vir die prioritisering van plaasmoorde onder sy persoonlike aandag te bring. ’n Ope brief aan die president in videoformaat is ook vandag op YouTube gepubliseer, waarin Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en outeur van dié boek, sekere dele van die boek voorlees om die kernargumente uit te lig.

Roets verduidelik dat hierdie stap geneem word nadat Ramaphosa op 26 September vanjaar in New York ontken het dat daar so iets soos plaasmoorde in Suid-Afrika is. Ramaphosa het ook verlede week in die parlement probeer om sy stellings te verduidelik en te regverdig. Ramaphosa het in dié verduideliking bloot syfers aangehaal om aan te voer dat plaasmoorde slegs ’n klein komponent van die totale aantal moorde in Suid-Afrika uitmaak.

“Dit is duidelik vanuit u verklaring, wat klaarblyklik deur u raadgewers geskryf is, dat dié raadgewers nie die volle omvang van die krisis begryp nie,” sê Roets in die video aan die president, voordat hy die tersaaklike dele uit die boek begin voorlees. “Om oor die statistieke te debatteer – soos u probeer doen – is goed en wel. Dit beslaan egter ’n klein deel van die volle omvang van die krisis en slegs ’n kwart van die argument oor waarom plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad beskou moet word.
“Die punt is, weer eens, dat plaasaanvalle en plaasmoorde ’n unieke misdaad met verreikende gevolge behels en ’n teenstrategie regverdig. U ontkenning van die omvang van die krisis impliseer dat u nog nie die eerste stappe geneem het om die krisis op te los nie, naamlik om te erken dat daar wel ’n krisis is.”

Kyk die video hier:
https://www.youtube.com/watch?v=4FuK9T-n150

Soortgelyke plasings