AfriForum oorhandig diensleweringswenslyste in Mpumalanga


AfriForum se takbesture het in Februarie vanjaar diensleweringswenslyste aan verskeie munisipale bestuurders in die Laeveld-streek van Mpumalanga oorhandig.
Dít volg nadat die hersieningsproses vir geïntrigeerde ontwikkelingsplanne (GOP’s) vir die volgende munisipale begrotingstermyn amptelik begin het en gemeenskapsorganisasies soos AfriForum die geleentheid gebied word om insette deur middel van diensleweringswenslyste te lewer.

“Die GOP is die enkele belangrikste dokument met betrekking tot die beplanning van munisipale dienslewering. Munisipale begrotings word bepaal deur die inhoud en die behoeftes wat in die GOP vervat is. AfriForum wil daarom seker maak dat GOP’s gemeenskappe se behoeftes aanspreek en fondse beskikbaar gestel word om ons lede se behoeftes aan te spreek,” sê Johann Weber, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Oos.

AfriForum het as deel van hul GOP-inisiatief diensleweringswenslyste aan die munisipale bestuurders van Piet Retief, Ermelo, Belfast, Machadodorp, Dullstroom, Lydenburg, Witrivier en Nelspruit oorhandig.

“Hoewel AfriForum die grondwetlike voorskrifte van gemeenskapsbetrokkenheid by die opstel van GOP’s en munisipale begrotingsprosesse tot voordeel van hul lede benut, volg die burgerregte-organisasie ’n tweeledige strategie waar gemeenskappe gemobiliseer word om om na hulself om te sien en deur gemeenskapsgedrewe selfdoenaksies groter onafhanklikheid van die staat te bewerkstellig,” sluit Weber af.

Gemeenskappe kan by die opstel van munisipale GOP’s en begrotingsprosesse betrokke raak deur hul plaaslike AfriForum-tak te kontak.

Soortgelyke plasings