AfriForum oor begrotingsrede: Reddingsboeie en NGV bly bekommernis


Finansiesminister Tito Mboweni se begrotingsrede vir die 2019/2020 finansiële jaar dui op ’n poging om sowel Suid-Afrika se spartelende ekonomie as ondernemings in staatsbesit te red. Volgens AfriForum sal reddingsboeie (onder meer aan Eskom) en die befondsing van die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) egter die strop om belastingbetalers se nekke al stywer trek.
Entiteite in staatsbesit, insluitend Eskom

Die tesourie het sy gebeurlikheidsreserwefonds na R13 miljard verhoog ten einde te reageer op entiteite in staatsbesit se aansoeke vir finansiële ondersteuning. AfriForum verwelkom die minister se aankondiging dat die aansoekproses vir finansiële steun vanjaar baie strenger gaan wees. “Dit bly egter kommerwekkend dat belastingbetalers wéér vanjaar moet opdok vir die wanbestuur van besighede in staatsbesit,” sê Natasha Venter, woordvoerder by AfriForum.
Mboweni se aankondiging dat die skuldbelaste Eskom ’n reddingsboei van R69 miljard (R23 miljard per jaar) oor die volgende drie jaar gaan kry is kommerwekkend. Mboweni het aangekondig dat die regering nie Eskom se skuld as sy eie gaan aanneem nie en dat die reddingsboei aan Eskom afhanklik is van die aanstel van ʼn onafhanklike persoon verantwoordelik vir die herstrukturering van die kragreus. “Dit bly egter onregverdig dat die belastingbetaler weereens aanspreeklik gehou word vir die massiewe vlak van wanbestuur by Eskom, veral gegewe die feit dat Eskom onlangs weer aansoek gedoen het vir ’n tariefverhoging,” aldus Venter.

Nasionale Gesondheidsversekering
Die tesourie het R717 miljard toegeken vir gesondheidsdienste, insluitend die uitrol van die NGV. Die publieke gesondheidsektor word hopeloos wanbestuur en fondse word jaarliks wanbestee. Verder sal heffings op belasbare inkomste in die toekoms noodwendig een van die hoofbefondsingsbronne van die NGV wees.

AfriForum is van mening dat die NGV polities gemotiveer is en dat dit nie die gesondheidsuitkomste van die armste en kwesbaarste lede van die samelewing wesenlik sal verbeter nie. “Die misbruik van belastingbetalers se geld is ’n nasionale krisis en hierdie skema sal net tot die krisis bydra. Dit is tyd dat belastingbetalers druk op die Nasionale Vervolgingsgesag plaas om voorbeelde te maak uit departementshoofde wat nie hul pligte, soos vervat in die Wet, nakom nie. Hulle is van die grootste boosdoeners in die misbruik van belastingbetalers se geld.
“Wanneer ’n mens die hoë vlakke van armoede en werkloosheid, die klein belastingbasis en die swak prestering van die openbaregesondheidsektor in ag neem, is dit moeilik om jou voor te stel hoe ’n regeringsbefondsde stelsel – wat ‘gratis gesondheidsorg vir almal’ beloof – vir Suid-Afrika geskik is. Die NGV-skema is op ’n regeringstoegediende-, sentraal beheerde-, enkelbetaalmodel gebaseer. Hetsy direk of indirek, sal die regering die beskikbaarheid, befondsing en lewering van gesondheidsorg vir almal beheer,” sê Venter.
Die burgerregte-organisasie verwelkom die besluit dat persoonlike belasting byna onveranderd gelaat is, aangesien belastingbetalers reeds gebuk gaan onder die juk van verskeie versteekte belastings. “Verder het Suid-Afrika een van die grootste kabinette in die wêreld en dít moet verminder word sodat slegs ministeries wat noodsaaklik is tot die doeltreffende bestuur van die land behou word. Staatsbesteding is astronomies en moet ook besnoei word. Die aankondiging dat parlementslede, provinsiale wetgewers en uitvoerende beamptes by publieke entiteite nie vanjaar verhogings gaan kry nie, is daarom ’n stap in die regte rigting,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings