|

AfriForum ontmoet Gautengse polisiekommissaris oor veiligheid

AfriForum het vandeesweek met die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Deliwe de Lange en haar klusterhoofde by die burgerregte-organisasie se hoofkantoor in Centurion ontmoet.

Dít volg nadat AfriForum op 4 Mei met lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, asook provinsiale polisiekommissarisse vergader het om die wyse te bespreek waarop plaasmoorde geprioritiseer kan word en hoe AfriForum hiermee kan help. Phahlane het by dié vergadering bevestig dat plaasmoorde amptelik as ʼn prioriteitsmisdaad vorentoe hanteer sal word.

Die burgerregte-organisasie veg sedert 2010 teen die voortslepende aanvalle en moorde op boere en gemeenskappe in landelike gebiede. Talle veldtogte, plaaslik en internasionaal, is sedertdien deur AfriForum begin om plaasmoorde en –aanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

“Na die samesprekings met die nasionale polisiekommissaris, was dit belangrik dat ons operasioneel begin praat met die polisie. Ons kan nog nie ons veldtog en pogings aankondig as ʼn sukses, tot dat ons nie iets begin doen nie,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, oor die ontmoeting met die Gautengse polisie gesê.

Cameron meen hoewel die samesprekings met die polisie verwelkom word, is daar nie rede om fees te vier voordat werklike resultate gesien kan word nie.

Hy verduidelik dat die burgerregte-organisasie dit goed gedink het om eerste met Gauteng se kommissaris te ontmoet omdat die provinsie toeganklik is ten opsigte van polisiëring en omdat AfriForum reeds ʼn goeie verhouding met die polisie in dié provinsie het.

Die twee partye het gesprekke gevoer oor ʼn nouer samewerkingstrategie, asook oor die bestaande persepsies wat hulle oor mekaar gehad het en hoe dit verander kan word sodat beter vertroue onderling gekweek kan word.

Die partye ontmoet weer op 23 Mei vir hul operasionele vergadering en hul eerste gesamentlike patrollie sal op 27 Mei plaasvind. AfriForum en die Gautengse polisie gaan ook ʼn gesamentlike ooreenkoms opstel in die volgende maand.

De Lange het aan Forum Nuus gesê dat hul vergadering baie produktief was. “ Ons het goeie gesprekke met AfriForum gehad. Ons kan en gaan goed saamwerk en mekaar bystaan om teen geweld op te tree.”

Sy verduidelik dat die provinsie tans van die hoogste misdaadsyfers in die land het en dat unieke hulpbronne nodig is om dié misdaad te bekamp. Sy het voorts gesê dat dit vir haar en haar span ʼn voorreg was om AfriForum te kon besoek.

“Ons wil graag ʼn vennootskap hê en hande vat met AfriForum in die stryd teen misdaad.”

 

Soortgelyke plasings