AfriForum onthul: 56 wit skoolmeisies weens ras uit Gauteng-netbalspanne gelaat


Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag in Pretoria bekend gemaak dat dié organisasie die keurders vir die Gautengse o.12- tot o.18-skolespanne se puntestate bekom het. Dié puntestate bewys dat 56 wit meisies, wat volgens die keurders se beoordeling op meriete vir die spanne gekies moes word, egter weens hul ras uit die spanne gelaat is.

AfriForum het reeds namens 12 van die benadeelde meisies se ouers amptelike klagtes by Netbal Suid-Afrika (NSA), Suid-Afrikaanse Skolenetbal (SASN) en Gauteng Skolenetbal (GSN) ingedien. Dié klagtes eis onder meer dat rassekwotas afgeskaf moet word en dat die benadeelde meisies skriftelik erkenning van GSN moet kry dat hulle wél op meriete gekies moes word. (Die volledige klag en die keurders se puntestate word hierby aangeheg.)
AfriForum en die ouers het in hul klagtes aan die bogenoemde netbalinstellings aangedui dat, sou daar nie binne 14 dae aan hul eise voldoen word nie, ’n amptelike klag van rassediskriminsaie teen NSA by die Internasionale Netbalfederasie (INF) ingedien sal word. Indien nodig sal die saak ook na die internasionale Hof vir Arbitrasie in Sport (CAS) geneem word. Die INF se reëls, asook dié van sowel die Internasionale Olimpiese Komitee as die Statebondspelefederasie, verbied uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys daarop dat die 56 meisies wat suiwer op grond van hulle velkleur benadeel is, tussen 2001 en 2007 gebore is. Hulle is dus ná oudpresident Mandela se ampstermyn gebore.

“Dié jong kinders se waardigheid word ernstig geskend omdat hulle nou gestraf word vir ’n vorige bedeling waaraan hulle geen aandeel gehad het nie,” voeg Kriel by. Kriel vra hoe ’n mens vir ’n twaalfjarige meisie moet verduidelik dat sy goed genoeg is om ’n span te haal, maar dat haar ras (wat sy nie self gekies het nie) bepaal dat sy nie die span mag haal nie.

Volgens Kriel poog NSA en ander Suid-Afrikaanse sportliggame telkens om hul rassediskriminasie teen kinders met ’n kwotastelsel te regverdig deur dit voor te hou as ’n poging om ongelykhede reg te stel deur geleenthede te bied aan kinders wat skoolgaan by arm, agtergeblewe skole sonder toegang tot goeie fasiliteite en afrigting. ’n Ontleding van die spankeuses van die Gautengse skolespanne dui daarop dat 49 van die 56 meisies wat op grond van ras (en nie meriete nie) gekies is, in gegoede skole (privaat of voormalige model C‑skole) skoolgaan wat oor goeie fasiliteite en afrigters beskik. “Dit beteken dat die rassediskriminasie wat met die spankeuses gepaardgegaan het ’n suiwer poging is om ’n rasgedrewe ideologie te dien, en nie daarop gemik is om geleenthede vir arm kinders te skep nie,” sê Kriel.
Kriel wys daarop dat AfriForum sterk ten gunste daarvan is dat netbalspelers in arm gemeenskappe ontwikkel word. “Die feit dat die spankeusesyfers wys dat NSA klaaglik daarin misluk om spelers in arm skole te ontwikkel, kan nie as regverdiging vir NSA dien om sy eie mislukkings te probeer verbloem deur nou blatant op grond van ras teen kinders te diskrimineer en hul menswaardigheid te skend nie.”
Volgens Kriel het 42 swart meisies die Gautengse spanne op meriete gehaal. Dit is tragies dat hierdie beduidende getal goeie swart spelers nou ook benadeel word deurdat die rassekwotastelsel op onregverdige wyse die kwota-etiket om hul nekke hang.
AfriForum eis ook in sy skrywe dat die Suid-Afrikaanse netbalinstellings ’n uiteensetting verskaf van watter objektiewe kriteria gebruik word om kinders sonder hul ouers se toestemming op grond van ras vir die doeleindes van spankeuses te klassifiseer. AfriForum eis ook dat ’n volledige uiteensetting van NSA se ontwikkelingsinisiatiewe in arm gemeenskappe aan die organisasie verskaf word, aangesien AfriForum graag positiewe insette wil lewer ter verbetering van NSA se planne, wat klaarblyklik misluk as die gebrek in spanne aan spelers uit arm skole in ag geneem word.
Volgens Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, is NSA se diskriminasie teen wit skoolmeisies een van talle voorbeelde van hoe jongmense, wat graag ’n positiewe bydrae tot hul provinsies en land wil maak, op groot skaal vervreem word omdat hulle weens hul velkleur soos tweederangse burgers in hul geboorteland behandel word. Maree wys daarop dat AfriForum Jeug nooit by hierdie soort benadeling van kinders en jongmense sal berus nie en dat sy organisasie elke meganisme tot sy beskikking sal gebruik om enduit te veg vir ’n samelewing waarin alle jongmense as eersterangse burgers beskou word.
Volgens AfriForum kan die publiek help om te wys dat daar wydverspreide teenkanting teen die kwotastelsel is deur hul name by klagtes teen NSA te voeg wat by die internasionale liggame ingedien gaan word. Die publiek kan hul name by https://afriforum.co.za/stopkwotas/ byvoeg of deur hul name na 32687te SMS (R1).

Soortgelyke plasings