AfriForum ontbloot meer as R60 miljoen se korrupsie in Alberton 

Die burgerregte-waghond AfriForum het korrupsie tussen die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit en die ANC-raadslid Neil Diamond ontbloot. Dit volg ná ’n ruiltransaksie wat Diamond met die munisipaliteit aangegaan het waar die waarde van twee stukke grond met meer as R60 miljoen verskil.

Dié transaksie kom nie net op ’n vermorsing van belastingbetalergeld neer nie, maar het ook tot Diamond se persoonlike voordeel gestrek aangesien hy 20% aandele in die betrokke maatskappy hou. Die tweede beskuldigde, die Albertonse ontwikkelaar en sakeman Rean Booysen, het homself ook nie tydens die besluitnemingsproses van die transaksie onttrek of bekend gemaak dat hy by die transaksie sou baat vind nie.
Die handelinge van beide kom neer op strafregtelike oortredings wat bedrog, meineed, vervalsing van uitgifte en die verbreking van bepaalde artikels van dorpsbeplanningordinansies insluit.
AfriForum se tak in Alberton en Forensics for Justice het saamgewerk om te verseker dat die staat die strafregtelike klagtes teen Diamond en Booysen na behore ondersoek.

“Indien die Nasionale Vervolgingsgesag besluit om nie te vervolg nie, sal AfriForum privaat vervolging oorweeg,” sê Marie Naude, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid.

Die plaaslike AfriForum-tak het reeds ’n skrywe aan die SAPD gerig wat meld dat AfriForum en Forensics for Justice as waghond sal optree en ook hul ondersteuning in die ondersoekproses aanbied.

Soortgelyke plasings