AfriForum ondersteun slagoffers teen internasionale korporatiewe boelies soos Ford


AfriForum het vandag by ’n mediakonferensie in Centurion aangekondig dat Adv. Gerrie Nel, hoof van die burgerregte-organisasie se privaatvervolgingseenheid, die Jimmy-gesin teen die Ford Motormaatskappy gaan verteenwoordig ná Reshall Jimmy in Desember 2015 doodgebrand het toe die Ford Kuga wat hy bestuur het aan die brand geslaan het.

“In hierdie geval het die strafregtelike regstelsel van Suid-Afrika die slagoffer in die steek gelaat. Die gesin wag al amper drie jaar dat die saak ondersoek moet word en AfriForum het skrywes aan die landroshof in George gerig wat vir ’n formele ondersoek pleit,” sê Nel.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om Ford nie te vervolg nie en het die gesin ’n nolle prosequi-sertifikaat geweier aangesien hulle op die uitslag van die ondersoek wag. AfriForum het die proses gemoniteer en ondersteun in aanloop tot die aankondiging van ’n formele ondersoek wat voor ’n regter van die hooggeregshof te staan sal kom en op 4 Februarie 2019 aanvangs sal neem.

Nel voeg by dat dit onaanvaarbaar is vir internasionale korporatiewe boelies soos Ford om hulself as verhewe bo die reg te beskou: “Ons was verbaas dat Ford alle kommunikasie met die slagoffers gestaak het en tydens gesprekke met die gesin stellings soos ‘We have deep pockets,’ gemaak het.”
AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal die gesin gedurende die ondersoek verteenwoordig en hoop om ’n duidelike, onbetwisbare antwoord van Ford te verkry rakende die verslag wat kort ná die voorval van ’n mnr. Young ontvang is. “Ons vertrou dat hierdie inligting die gesin se weergawe van die gebeure rondom die brand sal bevestig, onder meer dat die brand deur ’n meganiese fout veroorsaak is. Dit is interessant dat Ford, sover ons kennis strek, twee deskundige verslae oor die moontlike oorsaak van die brand verkry het maar dat geeneen daarvan aan die gesin en/of die SAPD beskikbaar gestel is nie,” sê Nel.

Sedert AfriForum se betrokkenheid het Ford twee privaat regsverteenwoordigers aangestel om ‘die dialoog voort te sit’ maar die burgerregtewaghond het tot dusver, nes die gesin oor die afgelope drie jaar ervaar het, geen werklike poging tot kommunikasie ervaar nie. Volgens Nel is hierdie saak ’n verdere stap in AfriForum se strategie om die beginsel van privaat vervolging te vestig.

Soortgelyke plasings