AfriForum ondersteun Nkandla gemeenskap wat vergeefs op skool wag


AfriForum sal regsadvies inwin om ’n gemeenskap van Nkandla wat vergeefs op ’n skool wag, by te staan. Dit volg nadat dié burgerregte-organisasie deur wanhopige ouers om hulp genader is. Hulle kinders het sedert die aanvang van die skooljaar steeds nie toegang tot onderrig nie, hoewel aan hulle onderneem is dat ’n skool vanjaar gereed sou wees.
By ondersoek het dit aan die lig gekom dat die KwaZulu-Natalse onderwysdepartment al in 2006 die bou van die Khuba Sekondêre Skool goedgekeur het en dat die skool ook reeds geregistreer is, maar nooit in 2016 gebou is soos belowe is nie.

“AfriForum het eerlik aan die ouers gesê dat ons nie kan help met die oprig van ’n skool nie, maar dat ons definitief die gemeenskap kan bystaan om uit te vind waarom die skool nie gebou is nie en om druk op die departement uit te oefen om hulle beloftes na te kom,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
Bloem sê verder dat ’n brief met ’n versoek om verduideliking deur AfriForum aan die departement gestuur is, waarop hulle geantwoord het (brief aangeheg) dat die gemeenskap nie groot genoeg is om die bou van ’n skool te regverdig nie. Hulle sê ook dat die amper 400 leerlinge reeds by ander omliggende skole ingeskryf is. “Die probleem is egter dat al is die kinders dalk ingeskryf, is die skole in die omgewing nie toeganklik vir hulle nie. Daar word verwag dat van die kinders tot 10 kilometer ver moet stap om by van die skole uit te kom en dan verder in klaskamers van 60 plus leerlinge onderrig moet ontvang. Dit is bloot onaanvaarbaar,” sê sy.

AfriForum sal ’n regsmening namens die gemeenskap inwin oor wat hulle nou te doen staan en dan verder met die ouers konsulteer.
Bloem sê dat daar baie maniere is waarop hierdie probleem oorkom kan word, soos om mobiele klaskamers op te rig, of gekombineerde grade in ’n kleiner skool te akkommodeer. Dit kom egter voor asof die onderwysdepartement geen begrip vir hierdie landelike gemeenskap se unieke omstandighede het nie. Hulle word nie bygestaan nie en kommunikasie tussen hulle en die departement laat veel te wense oor.
AfriForum neem ook kennis van bewerings dat die onderwysdepartement in die voorafgaande boekjaar onderspandeer het, wat dit nog meer laat lyk asof die kinders die slagofffers van wanadministrasie en kortsigtige besluitneming is.

“In die lig van pres. Jacob Zuma se selfvoldane verklaring in sy staatsrede van 2017 oor die vordering met onderrig in Suid-Afrika, en meer spesifiek met die oprigting van skole, is dié gemeenskap se dilemma des te meer ironies en tragies,” voeg Bloem by.

Soortgelyke plasings