AfriForum ondersteun families in die Wes-Kaap ná verskeie plaasaanvalle


AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid het die afgelope naweek verskeie families en plaaswerkers in De Doorns en Bonnievale besoek om emosionele bystand te verleen ná die grusame plaasaanvalle en -moord.

Dit volg nadat Wennard (70) en Lorna Barnard (62) op Vrydagaand 17 Mei 2019 in hul huis net buite De Doorns oorval en erg aangerand is. Dié aanval het die egpaar erg getraumatiseerd gelaat.
Die eenheid het ook Tool Wessels, ’n boer van die Bonnievale-omgewing, se gedenkdiens in die NG Kerk in Bonnievale bygewoon nadat hy verlede week op sy plaas Kapteinsdrift vermoor is. Die diens is deur sy vrou, Liezel, haar twee dogters, familie, vriende en plaaswerkers bygewoon en die kerk was stampvol.

“Die familie, plaaswerkers, vriende en Bonnievale-gemeenskap is erg geskok en seergemaak dat een van Bonnievale se geliefde boere op so ’n wreedaardige manier moes sterf. Nie hy of enige ander persoon verdien om só te sterf nie. Ek glo elkeen wat die gedenkdiens bygewoon het, het Tool se goedheid op een of ander manier beleef,” sê Johan Kloppers, AfriForum se trauma-ondersteuningsbeampte wat die gedenkdiens bygewoon het.

Die eenheid het verdere emosionele bystand aan die gemeenskap gebied, en sal beskikbaar wees om die familie of gemeenskap verder te ondersteun.

Soortgelyke plasings