|

AfriForum ondersteun familie by hof ná plaasaanval

AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid het Fanie en Colleen Engelbrecht se familie verlede week by die Palm Ridge-landdroshof aan die Oos-Rand ondersteun nadat dié egpaar tydens ’n plaasaanval in 2018 wreed vermoor is.

Julius Mapayi Goncalves (24) en Jossias Nhalungo (36), albei van Mosambiek, is deur regter David Makoba skuldig bevind aan moord, roof en die besit van onwettige vuurwapens. Twee ander verdagtes is egter nog op vrye voet. Die vonnisoplegging vind op 6 April 2020 plaas.

Die Engelbrecht-egpaar is op Moedersdag in 2018 wreed op hul plaas Welgevonden aan die Wes-Rand aangeval. Colleen is met ’n strykyster gebrand en met die koord verwurg en Fanie se keel is afgesny. Die skuldiges het met ’n tabletrekenaar, selfoon, kontant en twee vuurwapens gevlug.

“Dit is vir die Trauma-ondersteuningseenheid belangrik om slagoffers van geweldmisdaad en hulle families by te staan. Dit is verskriklik traumaties vir slagoffers om in die hof te verskyn. Hulle herleef nie net die tragiese gebeure waardeur hulle of hul geliefdes is nie, maar verstaan ook nie altyd die prosesse of tegniese aspekte van die hof nie. Ons wil dié proses ’n bietjie makliker vir hulle maak,” sê Magda Coetzee, ondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid.

Stuur ’n e-pos na trauma@afriforum.co.za vir meer inligting oor die Trauma-ondersteuningseenheid.

Soortgelyke plasings