|

AfriForum ondersteun beskerming van SAUK-8

“Die ernstige dreigemente teen die SAUK-8 (joernaliste) laat rooi ligte oor mediavryheid in Suid-Afrika flikker.”

Só meen Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, nadat Sunday Times berig het dat drie van die groep joernaliste wat as die SAUK-8 bekend staan, glo geïntimideer is en na bewering ook doodsdreigemente per SMS gekry het.

Luidens mediaberigte is daar sedert verlede maand by drie van die joernaliste se huise ingebreek. In die jongste voorval is daar Saterdagoggend by Suna Venter, senior radioregisseur, se motor ingebreek.

Daar is glo ook op 15 Oktober op haar geskiet. Luidens Sunday Times se berig het sy later ’n SMS ontvang wat gelui het: “Volgende keer gaan ons nie mis nie.”

Luidens die berig is die groep daarvan oortuig dat die voorvalle daarop gemik is om om hulle van hul saak teen die SAUK in die hof te laat afsien.

Die SAUK het in Junie vanjaar dissiplinêre verhore teen die agt joernaliste aanhangig gemaak omdat hulle hulself na bewering gedistansieer het van die SAUK se sensuurbesluit om nie geweld tydens protesaksies uit te saai nie.

Hulle is toe afgedank omdat hulle dié beleid bevraagteken het, maar is wel later weer aangestel.

Die DA het gister in ʼn verklaring gevra dat lt.genl. Kgomotso Phahlane, nasionale polisiehoof, tydelik polisiebeskerming aan hulle beskikbaar stel.

“Dit is duidelik dat hoëprofiel individue met belang in die uitkoms van die hofsaak agter die doodsdreigemente is,” meen Phumzile van Damme, DA-LP.

“Dit is ’n hartseer dag wanneer joernaliste geïntimideer word omdat hulle veg om hul grondwetlike reg uit te leef om sonder vrees van intimidasie oor die nuus verslag te doen. Alle Suid-Afrikaners moet woedend wees dat ons land se joernaliste geteiken word,” sê Van Damme.

Die DA gaan ook steeds voort met regstappe om Hlaudi Motsoeneng, omstrede korporatiewe hoof van die SAUK, by die uitsaaier te laat afdank.

Volgens Van Damme sal die party ook die parlementêre ad hoc-komitee oor die SAUK, wat Dinsdag vir die eerste keer vergader, versoek om vanjaar nog hul ondersoek na die openbare uitsaaier af te handel.

Prof. Johannes Froneman, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het na afloop van die voorval in ʼn rubriek geskryf dat mediavryheid in Suid-Afrika vandag in groot gevaar is.

Hy meen die regering se plan om die media te beheer, sal herleef veral nadat die Independent-koerantgroep onlangs besluit het om te onttrek aan die jurisdiksie van die Persombudsman. Die koerante gaan nou klagtes oor berigte in sy publikasies bloot intern laat beoordeel.

Volgens hom speel dié groep, wat koerante soos The Star, Cape Argus, Cape Times, Pretoria News en Daily News insluit, in die hande van die regering met só besluit.

Hy meen dat die groep se ontrekking ʼn goeie rede aan die regering sal gee om te argumenteer dat onafhanklike mederegulering (via die persombudpersoon), nie meer werk nie.

*AfriForum het vroeër ’n betogting met plakkate buite die hoofkantoor van die SAUK in Johannesburg gelei waartydens Motsoeneng se bedanking geëis is. ’n Nasionale petisie is ook steeds aan die gang om Motsoeneng se vergrype en toepassing van sensuur aan die kaak te stel.

Die publiek kan AfriForum se veldtog op hul webwerf by www.afriforum.co.za volg en ondersteun.

Soortgelyke plasings