|

AfriForum ondersoek vertrapping van regte in 2016

Politiese ideologieë soos transformasie, regeringsinmenging asook die hoë misdaadsyfer is van die grootste faktore wat lei tot die vertrapping van eerste generasie menseregte in Suid-Afrika.

Só meen Johan Nortjé, navorser by die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI), wat die stand van burgerregte in 2016 ondersoek en die bevindings daarvan pas in die jaarlikse burgerregte-indeks bekend gestel het.

Dié bevindings fokus spesifiek op die realisering van 17 eerste generasie regte.

Dié regte is “gewone regte” wat in die meeste demokratiese lande gewaarborg word en in Suid-Afrika in die Handves van Menseregteregte beskerm word. Die regte behels onder meer die reg tot lewe, gelykheid, menswaardigheid, vryheid van uitdrukking, vryheid van godsdiens, vryheid van assosiasie, politieke regte en die reg om vreedsaam te vergader en te betoog.

Volgens Nortjé, is daar in 2016 op verskeie van dié regte inbreuk gemaak, veral op taal- en kultuurregte, sowel as die reg op lewe en waardigheid. Hy het in die verslag verwys na die nasionale gewelddadige protesaksies wat op verskeie universiteitskampusse plaasgevind het oor Afrikaans as onderrigtaal, asook oor die ANC se omstrede voorgestelde Wetsontwerp oor die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak, as voorbeelde van insidente wat dié regte negatief beïnvloed het.

ʼn Analise en interpretasie van relevante bestaande en voorgestelde wetgewing asook die status van elke reg, word ook in dié verslag aangedui.

Nortjé verduidelik verder dat verskeie ander eerste generasie menseregte wat verband hou met gelykheid, eiendomsreg en beroepe, slegs gedeeltelik in Suid-Afrika verwesenlik kan word weens regeringsinmenging.

Die vakbond Solidariteit is ook van mening dat werk, en nie hardnekkige rassewetgewing of grondhervorming nie, menseregte ten grondslag lê.

Volgens dr. Eugene Brink, politieke ontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, is regte sonder menswaardigheid nie werklik menseregte nie en is werk een van die vernaamste maniere om menswaardigheid aan mense te verleen. “Die Pew-navorsingsinstituut se 2016-studie dui daarop dat Suid-Afrikaners se grootste rede tot kommer voor die deur van werkloosheid en misdaad gelê kan word en daarom moet dit ’n prioriteit wees om dringend werk te begin skep,” het Brink gesê.

Volgens Brink ry onverantwoordelike uitlatings deur politici en beleid oor grond egter werkskepping in die wiele omdat dit eiendomsreg in die gedrang bring en beleggers sodoende afskrik. “Sowel die ANC as die EFF stel met die aanhoudende getokkel op grondhervorming strooipoppe op wat die aandag van die werklike probleme in die land, naamlik armoede en werkloosheid, aflei,” het hy verduidelik.

Brink sê die regering se huidige stel beleidsrigtings gaan boonop nie daarin slaag om die werkloosheidsyfer van bo die 27% te tem nie. “Die daarstel van sosialistiese beleid, beleidsonsekerheid en rassewetgewing moet gestaak word, terwyl die regerende party korrupsie in eie geledere moet vasvat sodat vertroue in die ekonomie kan herstel en die sakesektor weer met vertroue kan belê,” meen hy.

Volg die skakel vir die volledige ANI-verslag: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/Civil-Rights-for-2016.pdf

 

Eerste generasie menseregte Punt vir 2015 Punt vir 2016
Gelykheid F F+
Waardigheid C C-
Reg tot lewe D- D-
Vryheid en sekuriteit D D+
Slawerny en dwangarbeid B+ B+
Privaatheid B- B-
Vryheid van godsdiens A A
Vryheid van uitdrukking C C
Vergadering, demonstrasie en petisie D D-
Vryheid van assosiasie A A
Politieke regte B B+
Burgerskap A A
Vryheid van beweging A A
Vryheid van handel en beroep F F+
Eiendomsreg D- D
Taal en kultuur C- D
Toegang tot howe B+ B-

 

*ANI se puntestaat vir eerste generasie menseregte in 2016.

Soortgelyke plasings