AfriForum ondersoek regstappe oor onteiening sonder vergoeding


Die burgerregtewaghond AfriForum het die parlement skriftelik in kennis gestel dat die organisasie met sy regspan sal konsulteer rakende die opsie om die proses wat behels dat artikel 25 van die Grondwet gewysig word ten einde die staat te bemagtig om eiendom sonder vergoeding te onteien, as onwettig te verklaar.
Dít volg nadat die parlementêre komitee wat saamgestel is met die doel om die Grondwet te hersien se pogings om oor die wysiging van artikel 25 met die publiek te konsulteer, reeds verskeie prosedurele krisisse moes trotseer.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het aangedui dat dit reeds vir AfriForum blyk dat die proses om die publiek se insette te kry van meet af gemanipuleer word om ’n uitkoms te bereik wat die regerende party se standpunt sal ondersteun.
Slegs met betrekking tot die openbare verhore wat vir hierdie doel gereël word en wat reeds oor twee weke moet afskop, het AfriForum tien potensiële prosedurele onreëlmatighede geïdentifiseer wat ’n wesenlike impak op die uitkoms van die proses kan hê. Die tien punte is soos volg:

  • Talle van die plekke waar hierdie openbare verhore gaan plaasvind is steeds nie aan die publiek bekend nie.
  • Die tye wanneer hierdie openbare verhore moet begin is nie bekend nie.
  • Die agenda wat by hierdie openbare verhore gevolg moet word is steeds nie bekend nie.
  • Teenstrydige lyste met verskillende datums en plekke vir hierdie openbare verhore is deur die komitee gepubliseer.
  • Dit is duidelik dat die plekke wat gekies is waar hierdie openbare verhore moet plaasvind meestal in wyke geleë is waar die regerende party meer steun geniet.
  • Te min openbare verhore word gereël, wat ’n beduidende gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking sal uitsluit.
  • Die openbare verhore word gereël binne die omgewing van slegs ’n klein gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking.
  • Geen sekuriteitsreëlings rakende hierdie openbare verhore is getref of openbaar gemaak nie.
  • Groot metropolitaanse gebiede is van die proses uitgesluit omdat geen openbare verhore daar sal plaasvind nie.
  • Dit wil voorkom asof geen tot baie min bemarking gedoen is om die publiek van hierdie openbare verhore in te lig, ten spyte van die feit dat daar bitter min tyd oor is tussen die formulering van hierdie skrywe en die eerste openbare verhoor, wat geskeduleer is om op 26 Junie 2018 plaas te vind.

AfriForum het ’n beroep op die parlementêre komitee gedoen om hierdie kwessies dringend aan te pak. Die organisasie het ook te kenne gegee dat hoewel hy sy regte in hierdie verband voorbehou, hy steeds aan die openbaredeelnameprosesse sal deelneem met die oog om belangrike feite met betrekking tot onteiening sonder vergoeding op die tafel te plaas.
 

Soortgelyke plasings