AfriForum nou 210 000 lede sterk


Die burgerregte-organisasie AfriForum se aktiewe ledetal het pas die 210 000-kerf verbygesteek. Dié organisasie se ledetal was aan die begin van 2010 slegs 9 000 en het dus oor die afgelope agt en ’n half jaar met meer as 2 300% gegroei.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit veral insiggewend dat die organisasie sterk groei ten spyte van pogings uit sekere kringe om wanvoorstellings van AfriForum te maak en vals etikette om die organisasie se nek te probeer hang.

“Gewone, gematigde mense wat ’n positiewe bydrae wil lewer skaar hulle skynbaar te midde van onbillike aanvalle op AfriForum toenemend by dié organisasie.”

Kriel wys daarop dat die sterk groei in AfriForum se ledetal beteken dat die organisasie ’n nuwe fase kan betree en sy werksaamhede en veldtogte nóg verder kan uitbrei.

“Die 210 000 lede se steun maak dit onder meer moontlik om adv. Gerrie Nel se span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid verder uit te brei om meer sake aan te pak. AfriForum is ook in staat om nou sy netwerk van nagenoeg 110 buurtwagte en ander selfdoenaksies in plaaslike gemeenskappe verder uit te brei, terwyl dié organisasie se nasionale en internasionale veldtogte op ’n nóg groter skaal aangepak sal kan word,” voeg Kriel by.

Kriel wys daarop dat AfriForum se veldtogte deur lede moontlik gemaak word en dat elkeen van die 210 000 lede trots kan wees op hul eie rol in die suksesse wat AfriForum reeds behaal het en ook in die toekoms gaan behaal.

“AfriForum se krag lê in sy lede en daarom bedank AfriForum elkeen van sy lede vir hulle volgehoue ondersteuning.”

Volgens Kriel verskaf AfriForum se 210 000 lede aan die organisasie die nodige spierkrag om sy rol as burgerregtewaghond en selfdoenorganisasie met groter doeltreffendheid te vervul, terwyl die steeds groeiende ledetal ook sal verseker dat hierdie spierkrag in die toekoms selfs nóg meer gaan wees.

Soortgelyke plasings