--> -->
Spyskaart +

AfriForum Netwerk

Februarie 13, 2019 deur Mareli Rall

“Op ons eie kan ons bitter min doen; saam kan ons sovéél meer vermag” – Helen Keller.

Dit is nou nodiger as ooit om saam dinge te vermag, saam projekte aan te pak en saam te staan. Volgens AfriForum se navorsing is sowat 30% van die Suid-Afrikaanse sakewêreld Afrikaans. Die burgerregte-organisasie wil deur dié projek vir daardie 30% ʼn platform skep waar hulle gemaklik kan kommunikeer met hulle kliënte in die taal wat hulle almal die beste verstaan en waarin hulle hulleself die duidelikste kan uitdruk.

Daarom is daar besluit om AfriForum Netwerk te loods. AfriForum Netwerk val onder AfriVriendelik, wat ’n eenstop entrepreneursplatform vir lede en die publiek is. AfriVriendelik is nou drie jaar oud en waar ons slegs met ’n besigheidgids begin het, kan ons nou ook spog met ander ondersteuningsdienste vir entrepreneurs en besigheidseienaars, soos; Entrepreneursopleiding, Sake-ontbyte, toekenningsgeleenthede en kompetisies.

AfriForum Netwerk is daar vir lede om mekaar te ondersteun in ’n tyd waar dit belangrik is om hoop te skep. Só gee ons vir lede die geleentheid om hulle gemeenskap uit te bou en op te bou en te bemagtig – in Afrikaans.  So help ons mekaar met ons eie kapitaal om te groei en te bou aan ‘n volhoubare toekoms.

AfriForum Netwerk is tans 900 besighede sterk en met jou ondersteuning kan dit net nóg groei. Deur AfriForum Netwerk te gebruik ondersteun jy nie net nog ’n besigheid nie, maar ook iemand wat hard werk om ’n toekoms vir hom- of haarself te skep in Suid-Afrika.

AfriForum Netwerk – waar lede mekaar ondersteun!