AfriForum: Nelson Mandela-stigting is oneerlik; speel polariserende rol

Die burgerregteorganisasie AfriForum beskuldig die Nelson Mandela-stigting (NMS) daarvan dat dié stigting tans ’n polariserende rol speel, oneerlik is en in die proses ernstig afbreek doen aan oudpresident Nelson Mandela se beeld as versoener. AfriForum doen ’n beroep op die NMS om afstand te doen van hul soeke na wraak en om eerder saam met AfriForum te werk om ’n samelewing te vestig waarin wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe uitgebou word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die NMS se bewering onwaar dat hulle met AfriForum probeer saamwerk en AfriForum geweier het. “Die teendeel is waar. AfriForum se regspan het op 4 September 2018 ’n skrywe aan die NMS-regspan gerig waarin ’n gesprek versoek is om te verseker dat ’n minlike uitkoms bereik word, eerder as ’n uitkoms wat verdelend is. In dié brief het AfriForum ook gevra vir samewerking om te voorkom dat die dispuut ontaard en ons land se uiteenlopende gemeenskappe nog verder polariseer – iets wat ons deur samewerking moet verhoed. Ek was geskok toe die NMS hierdie hand van vriendskap wegklap en hul regspan laat weet: ‘[O]ur client has instructed us to reject your client’s request’,” sê Kriel.

Kriel sê dat dit tragies is dat die NMS bereid is om blatante leuens te verkondig – wat direk tot polarisasie en verdeeldheid in die land lei – deur valslik voor te gee dat ’n Afrikaanse organisasie soos AfriForum kwansuis nie tot gesprekvoering verbind is nie.

Met betrekking tot die NMS se aanduidings dat hulle weens “minagting van die hof” wil optree teen Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, sê Kriel dat dit óók ’n aanduiding is dat die NMS se drang na verbanning en sensorskap só sterk is dat hulle selfs mense soos Roets wil vervolg wat binne die raamwerk van die hof se riglyne opgetree het.

“Die hof het gesê dat die vlag vir joernalistieke en akademiese doeleindes gebruik kan word. Die NMS wil egter nou dié verbod selfs strenger toepas deur ’n heksejag teen Roets, ’n doktorale regstudent, omdat hy dit durf waag het om ’n akademiese regsvraag te stel of hy wel die wet oortree, deur dié regsvraag saam met ’n beeld van die ou vlag te vra,” voeg Kriel by.

Die NMS se heksejag is, volgens Kriel, juis die soort gedrag waarteen gewaarsku is toe AfriForum besluit het om ter wille van spraakvryheid die verbanning en sensorskap van simbole teen te staan. Kriel wys ook daarop dat AfriForum gewaarsku het dat die NMS se optrede nuwe lewe en selfs ’n kultusstatus sou gee aan ’n vlag wat in onbruik verval het, deur dit te laat verban. “Ons samelewing pluk nou die wrang vrugte van die NMS se polariserende optrede,” sê Kriel.

Soortgelyke plasings