AfriForum neem stelling in teen Eskom se beplande hoëspanningskraglyne


Die AfriForum-tak in Alberton het reeds regsadvies ingewin rakende Eskom se voorgestelde besluit om hoëspanningskraglyne in Alberton se sakekern op te rig wat ook ’n invloed op woonbuurte in die noorde van die dorp gaan hê. Dít volg nadat Willie van Wyk, voorsitter van dié AfriForum-tak, verskeie klagtes van bekommerde gemeenskapslede ontvang het.

“Lede van die publiek het my paniekerig geskakel en beweer dat Eskom hulle dreig om hul eiendom te verkoop, aangesien dit in die pad van die elektrisiteitsreus se planne staan om die hoëspanningskraglyne op te rig,” sê Van Wyk.

Die stadsraad neem vandag ’n besluit om Eskom se planne goed te keur al dan nie. Dit kan daartoe lei dat huiseienaars nie net aan die gevare wat 400 000 V se kraglyne inhou blootgestel word nie, maar ook die onteiening van hul eiendom in die gesig staar.

“Ons sal ons lede se belange beskerm en nie toelaat dat Eskom mense van hul grondwetlike regte ontneem nie. Die beplande aksie deur Eskom hou geweldige nadelige gevolge vir die gemeenskap van Alberton in,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid.

Eskom  beplan sedert 2008 om die hoëspanningskraglyne op te rig en dit gaan deur die middestad, die vleiland (wat natuurlewe sal beïnvloed), asook deur ʼn woonbuurt in die noorde van Alberton strek. Dit sal huiseienaars noop om hul eiendom te verkoop. Ses huiseienaars het reeds hul eiendom verkoop as gevolg van die beplande aksie deur Eskom.
AfriForum staan Eskom se planne vierkantig teen. Raak betrokke by AfriForum se Alberton-tak: SMS “Kraglyne” na 45342 om jou steun te wys.

Soortgelyke plasings