AfriForum neem regstappe oor Nkandla-skool


Die burgerregtewaghond AfriForum is met formele regstappe teen die KwaZulu-Natalse (KZN) onderwysdepartement besig ná die Nkungumathe-gemeenskap in Nkandla al 20 jaar op die oprigting van die Khuba Secondary School wag.
Lede van dié gemeenskap het AfriForum in Februarie vanjaar om hulp genader en die organisasie het die gemeenskap sedertdien met regshulp bygestaan en ook verskeie besoeke aan dié gemeenskap afgelê.

“AfriForum het geen ander keuse as om regstappe teen dié onderwysdepartement te neem nie. Leerders moet tussen twee en drie ure lank stap om by die naaste skool uit te kom, dikwels deur velde en oor riviere wat verskeie gevare vir dié leerders inhou. Geen kind verdien om só te moet sukkel om onderrig te ontvang nie,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

Bloem sê voorts dat die gehalte van onderrig wat leerders tans in skole in die omliggende gebiede ontvang nie aan die standaarde ingevolge Artikel 29(1) van die Grondwet voldoen nie.

“In heelwat klasse is die onderwyser-tot-leerder-verhouding tussen 85 en 121 leerders per onderwyser, en in die meeste gevalle moet sowat 10 leerders ’n handboek deel. Die meeste leerders sit ook in klastyd op die grond omdat daar nie plek vir almal is nie.”

Die departement het reeds in 1996 die Nkungumathe-gemeenskap se aansoek vir ’n hoërskool goedgekeur en in 2007 is die skool as Khuba Secondary School geregistreer. Hoewel ’n EMIS-nommer (Education Management Information System) aan die skool toegeken is, maak die departement deurgaans leë beloftes dat ’n skool wel gebou sal word. Die departement se laaste belofte was dat daar in Desember 2016 mobiele klaskamers opgerig sou word sodat die leerders solank dáár kan begin skoolgaan.
Ná AfriForum verskeie navrae aan die departement gestuur het, het die departement geantwoord dat hulle van dié 20 jaarlange belofte afstand gaan doen en nie die skool gaan bou nie.

“Die oprigting van die skool sal ’n groot aantal uitdagings in die Nkungumathe-gemeenskap aanspreek en aan leerders die geleentheid bied om gehalte-onderrig op ’n waardige wyse te ontvang,” sê Bloem.

’n Aanmaningsbrief is aan Mthandeni Dlungwana, LUR van onderwys in KZN, gestuur. Hy het 14 dae om daarop te reageer.

Soortgelyke plasings