|

AfriForum: Nasionale polisiekommissaris gryp na strooihalms rakende effektiewe polisiëring

Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat lt.genl. Khela Sitole, nasionale polisiekommissaris, na strooihalms gryp indien hy regtig glo effektiewe polisiëring in Suid-Afrika is aangewese op ’n bykomende 62 000 polisiebeamptes, soos berig in The Citizen op 23 Julie 2019[1]. Terwyl hy besig was om vrae te beantwoord tydens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se Alexandra-ondersoek, het Sitole aangedui dat ’n gebrek aan polisiebeamptes en verouderde verordeninge die grootste struikelblokke tot effektiewe polisiëring is.

“Volgens ’n 2010 VN-verslag[2] was die globale mediaan vir polisiebeamptes per 100 000 inwoners nagenoeg 300. Dieselfde verslag het ook aangedui dat meer polisiebeamptes nie noodwendig tot meer opgeloste misdade aanleiding gee nie. Met StatsSA wat die Suid-Afrikaanse bevolking op 57,73 miljoen in 2018[3] beraam het en Sitole wat die getal polisiebeamptes op 193 000 skat, het ons tans omtrent 334 polisiebeamptes per 100 000 inwoners,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Met polisiegetalle wat dus bogemiddeld is, glo AfriForum dat Sitole eerder moet fokus op faktore wat die polisie al jare lank teister, waaronder die volgende:

  • Hoë korrupsiekoerse, met die 2019 Global Corruption Barometer – Africa (GCB-A) wat onthul het dat die SAPD as die mees korrupte instelling in die land beskou word.[4]
  • ’n Tekort aan opleiding, met opleiding wat selfs vanaf twee jaar na agt maande verminder is vir nuwe polisiebeamptes in 2016.
  • Ongeletterdheid onder polisiebeamptes.[5]
  • Die gebruik van verouderde tegnologie.[6]
  • Pogings om beamptes onwettig en sonder meriete te bevorder.[7]
  • ’n Tekort aan geskikte hulpbronne weens gesentraliseerde verskafferkettingbestuur.
  • Nakoming van SEB-regulasies wat tot belaglike oorbesteding op polisietoerusting gelei het.

“In stede daarvan om die strate met meer ondergekwalifiseerde polisiebeamptes te vul wat nie voldoende toegerus is nie, moet Sitole eerder daarop fokus om korrupsie binne die SAPD uit te roei, die keuring en opleiding van beamptes te verbeter, die modernisering van polisiestelsels en tegnologie, merietegebaseerde bevorderings en die verkryging van geskikte toerusting teen ’n markverwante waarde,” sluit Cameron af.

Totdat dit egter gebeur sal AfriForum voortgaan om Suid-Afrikaners aan te moedig om by plaaslike veiligheidsinisiatiewe, soos byvoorbeeld AfriForum se buurtwagte, aan te sluit om hulself te beskerm terwyl die staat nie sy plig om ons gemeenskappe te beveilig kan of wil nakom nie.

Soortgelyke plasings