AfriForum nader Overstrand-munisipaliteit oor onluste


AfriForum het as deel van ’n groep gemeenskapsorganisasies van Hermanus op 28 Mei 2018 ’n vergadering met die Overstrand Plaaslike Munisipaliteit belê ten einde die munisipaliteit se planne om onluste op dié dorp te beheer, te bepaal.
Dudley Coetsee, uitvoerende burgemeester, en Coenie Groenewald, munisipale bestuurder, het die munisipaliteit verteenwoordig. Die belangegroep het uit AfriForum se Overstrand-tak, die Walviskus-ontwikkelingsforum (die verteenwoordiger van ’n aantal belastingbetalersverenigings), die Hermanus-gemeenskapspolisiëringsforum, die Hermanus-sakekamer en brig. Donovan Heilbron, bevelvoerder van die Overberg se SAPD-kluster, bestaan.
Die burgemeester het die langtermynbeplanning om die behuisingsprobleem te probeer oplos, uiteengesit, terwyl brig. Heilbron vrae oor die SAPD se hantering van die protesoptogte beantwoord het. ’n Tekort aan mannekrag, die onbeskikbaarheid van die SAPD-afdeling verantwoordelik vir openbare orde om onluste te help beheer, asook sekere wetgewingsbeperkings speel onder meer ’n rol in die wyse waarop die SAPD skarebeheer en -bestuur in hierdie situasie toepas.

“Indien daar egter nie binnekort ’n tussentydse oplossing vir die behuisingsnood gevind word nie, gaan dit ’n uiters negatiewe impak op ons streek se ekonomie hê,” sê Elmarie van Dalen, voorsitter van AfriForum se Overstrand-tak.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak se aktiwiteite betrokke: SMS “Overstrand” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings